1. Eendag het Rut se skoonma Naomi vir haar gesê: “My dogter, ek moet vir jou ’n man kry wat vir jou kan sorg.
2. Ek sal vir jou sê wat ons moet doen. Jy was saam met die vroue wat vir Boas werk, en hy is familie van my. Hy gaan vannag die gars op die dorsvloer in die lug opgooi, sodat die wind die kaf wegwaai.
3. Jy moet jou was en lekkerruik-olie aan jou smeer en jou mooi aantrek, en dan moet jy na die dorsvloer gaan. Maar jy moenie dat Boas sien wie jy is nie. Wanneer hy klaar geëet en gedrink het
4. en gaan slaap, dan moet jy kyk waar hy gaan lê, en dan moet jy die kombers optel en by sy voete gaan lê. Hy sal vir jou sê wat jy moet doen.”
5. Rut het vir Naomi gesê: “Ek sal alles doen wat jy sê.”
6. Rut het na die dorsvloer gegaan en sy het alles gedoen wat haar skoonma gesê het.
7. Boas het lekker geëet en gedrink en hy het gelukkig gevoel. Hy het gaan lê en slaap langs die hoop gars. Rut het saggies gekom en sy kombers opgetel en by sy voete gaan lê.
8. Toe Boas in die middel van die nag wakker word, het hy gesien daar lê ’n vrou by sy voete.
9. Hy het gevra: “Wie is jy?”Rut het gesê: “Ek is Rut, en jy moet vir my sorg, want jy is ’n losser.”
10. Boas sê toe: “Dogter, die Here sal jou seën. Jy het by jou skoonma gebly, en nou wil jy ook in die familie bly. Jy kon ’n jongman gekies het, ’n arm of ’n ryk jongman, maar jy het dit nie gedoen nie.