Romeine 2:14-26 Bybel vir Almal (ABA)

14. Die heidene het nie God se wette nie, maar partymaal besluit hulle self wat reg is en dan doen hulle dinge wat die wette sê. Hulle het nie God se wette nie, maar hulle lewe dan soos mense wat God se wette het.

15. Hulle doen dinge wat wys dat hulle God se wette in hulle harte het. Hulle weet self wat is reg en wat is verkeerd, en hulle kan vir hulleself sê dat hulle reg doen of dat hulle verkeerd doen.

16. Dit sal gebeur op daardie dag wanneer God vir Christus Jesus sê dat Hy moet kyk na al die slegte dinge wat mense gedink het, en dat Hy hulle moet oordeel. Dit is wat die goeie boodskap sê, die boodskap wat ek preek.

17. Jy sê jy is ’n Jood, jy sê God se wette is vir jou baie belangrik en jy spog en sê God is jou God.

18. Jy weet wat God wil hê jy moet doen, jy weet wat is die regte dinge om te doen, want mense leer vir jou wat die wette sê.

19. Jy dink jy kan ander mense help soos ’n mens iemand help wat blind is of soos ’n mens lig maak vir mense wat in die donker is.

20. Jy dink jy is soos iemand wat vir mense leer, mense wat niks verstaan nie. Jy dink jy is soos ’n onderwyser wat vir kindertjies leer. Jy dink dat alles wat ’n mens moet weet in God se wette is en dat al die waarheid in die wette is, en jy hét daardie wette.

21. Maar jy dink verkeerd. Jy leer vir ander mense, maar jy leer nie vir jouself nie. Jy sê vir ander mense hulle mag nie steel nie, maar jy self steel.

22. Jy sê vir ander mense hulle mag nie egbreuk pleeg nie, maar jy self pleeg egbreuk. Jy sê jy haat afgode, maar jy steel goed uit die afgode se tempels.

23. Jy spog omdat jy God se wette het, maar jy doen nie wat die wette sê nie en so wys jy dat jy nie vir God respekteer nie.

24. Daarom gebeur wat in die Ou Testament geskryf is. Daar is geskryf: Julle doen verkeerde dinge,en daarom praat die heidenesleg van God.

25. As jy doen wat God se wette sê, dan is dit goed dat jy besny is. Maar as jy nie doen wat God se wette sê nie, dan beteken dit niks dat jy besny is nie, dan is jy soos die mense wat nie besny is nie.

26. As mense nie besny is nie en hulle doen wat God se wette sê, dan sal God sê dit maak nie saak dat hulle nie besny is nie. Hulle is dan vir God dieselfde soos die mense wat besny is.

Romeine 2