Numeri 5:15-27 Bybel vir Almal (ABA)

15. Dan moet die man sy vrou na die priester toe bring. Hy moet ’n offer vir haar saambring, die offer moet een tiende van ’n efa garsmeel wees. Hy moenie olyf-olie op die meel gooi nie en hy moenie wierook daarop sit nie, want dit is ’n koring-offer van ’n man wat dink dat sy vrou ontrou was aan hom. Die offer moet wys of die vrou skuldig is of nie skuldig is nie.

16. Die priester moet die vrou laat nader kom en hy moet haar voor die Here laat staan.

17. Dan moet die priester ’n kleipot met gewyde water neem en hy moet van die stof neem wat op die vloer van die tempel-tent is en hy moet dit in die water gooi.

18. Die priester moet die vrou daar voor die Here laat staan en hy moet haar hare losmaak. Dan moet hy die koring-offer op haar hande sit, die koring-offer wat moet wys of sy skuldig is. Die priester self moet die pot met die bitter water vashou, die water waarmee hy die vrou sal vervloek as sy skuldig is.

19. Die priester moet dan vir die vrou daar voor die Here vra of sy skuldig is of nie. Hy moet vir haar sê: As ’n ander man nie seks gehad het met jou nie en jy was nie ontrou aan jou man nie, en as jy jouself nie onrein gemaak het nie, dan sal hierdie bitter water niks aan jou doen nie, die water waarmee ek jou kan vervloek.

20. Maar as jy ontrou was aan jou man en as jy jouself onrein laat word het omdat jy seks gehad het met ’n ander man,

21. dan sê ek nou hier voor die Here vir jou dat ek jou sal vervloek. Jy sal onvrugbaar word, en jou eie mense sal jou vervloek.

22. Hierdie water waarmee ek jou moet vervloek, sal in jou ingaan, en jy sal onvrugbaar word.“Dan moet die vrou sê: ‘Ja, as ek skuldig is, dan moet dit gebeur.’

23. “Dan moet die priester die woorde waarmee hy die vrou moet vervloek, op ’n stuk vel skryf, en hy moet die letters afwas in die bitter water.

24. Daarna moet hy sê die vrou moet die bitter water drink, die water waarmee hy haar moet vervloek. Die bitter water waarmee hy haar moet vervloek, moet in haar ingaan.

25. Dan moet die priester die koring-offer by die vrou neem, die offer van die man wat dink dat sy vrou ontrou was aan hom, en die priester moet die offer heen en weer beweeg voor die Here en hy moet dit na die altaar bring.

26. Die priester moet dan meel in sy hand neem, dit is die deel wat die Here moet kry, en hy moet die meel op die altaar verbrand. Daarna moet hy sê die vrou moet die water drink.

27. As die vrou haarself onrein gemaak het en ontrou was aan haar man, en die bitter water waarmee die priester haar moet vervloek, kom in haar, dan sal sy onvrugbaar word en haar eie mense sal haar vervloek.

Numeri 5