Numeri 35:18-29 Bybel vir Almal (ABA)

18. Of as hy iemand met ’n gevaarlike stuk hout geslaan het, en die persoon sterf, dan is hy ’n moordenaar, en ’n moordenaar moet sterf, dit is seker.

19. “Die persoon wat die moordenaar moet doodmaak, is die naaste familielid van die persoon wat dood is. Hy moet hom doodmaak waar hy hom kry.

20. “En ook wanneer iemand ’n ander persoon haat en hy stamp hom of hy wag vir hom en gooi hom dood met iets,

21. of wanneer iemand ’n vyand is van iemand anders en hy slaan die persoon dood, dan moet die persoon wat hom doodgeslaan het, ook sterf, dit is seker. Hy is ’n moordenaar, en die naaste familielid van die persoon wat gesterf het, moet die moordenaar doodmaak waar hy hom kry.

22. “Maar iemand is miskien nie ’n vyand van iemand anders nie, en hy stamp hom skielik of hy gooi hom per ongeluk raak met iets.

23. Of hy gooi ’n gevaarlike klip, hy sien nie waarnatoe die klip gaan nie, en hy gooi iemand raak wat nie sy vyand is nie, iemand wat hy nie wil seermaak nie. As daardie persoon sterf,

24. dan moet die volksvergadering oordeel tussen die persoon wat die ander een doodgemaak het en die familielid van die persoon wat dood is.

25. Die volksvergadering moet die persoon wat die ander een doodgemaak het, red van die familielid van die persoon wat dood is. Die vergadering moet hom terugstuur na die asielstad waarnatoe hy gevlug het, en hy moet daar bly totdat die hoëpriester gesterf het wat met die gewyde olyf-olie gesalf is.

26. “Maar as die persoon wat die ander een doodgemaak het, buite die grens gaan van die asielstad waarnatoe hy gevlug het,

27. en die familielid van die persoon wat dood is, kry hom en hy maak hom dood, dan is die familielid nie skuldig omdat hy hom doodgemaak het nie.

28. Wanneer die persoon wat die ander persoon doodgemaak het, in die asielstad bly totdat die hoëpriester dood is, dan mag hy daarna teruggaan na sy grond.

29. Dit is wat julle en julle nageslag moet doen oral waar julle woon.

Numeri 35