7. Hulle moet vir die hele volk werk by die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn, hulle moet alles wat nodig is, by die tempel-tent doen.
8. Hulle moet sorg vir alles wat by die tent moet wees, hulle moet die werk doen vir die Israeliete, die werk wat nodig is by die tempel-tent.
9. Jy moet die Leviete vir Aäron en sy seuns gee. Die Israeliete gee die Leviete sodat hulle vir Aäron en sy seuns kan werk.
10. Net Aäron en sy seuns mag priesters wees. Wanneer iemand anders die priester-werk doen, dan moet julle hom doodmaak.”
11. Die Here het vir Moses gesê:
12. “Ek het self die Leviete weggeneem van die Israeliete. Ek het nie die oudste seuns van die Israeliete geneem nie, Ek het die Leviete geneem in hulle plek. Die Leviete behoort aan My.
13. Al die oudste seuns en al die eerste kleintjies van die mak diere is Myne. Dit is so van daardie dag af toe Ek die oudste seuns in Egipte laat sterf het. Ek het toe elke seun en elke dier wat eerste gebore is, aan My gewy, hulle is Myne, Ek is die Here.”
14. Die Here het in die Sinai-woestyn met Moses gepraat en vir hom gesê:
15. “Jy moet die name van die Leviete en die name van hulle voorvaders en families in ’n boek skryf. Jy moet die name opskryf van elke man en seun wat ’n maand of ouer is.”
16. Moses het toe die name van die Leviete opgeskryf soos die Here gesê het.
17. Hier is die name van die seuns van Levi: Gerson, Kehat en Merari.
18. Hier is die name van die Gerson-families: Libni en Simi.
19. Die Kehat-families was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël.
20. Merari se seuns was Magli en Musi. Dit is ook die name van die Merari-families. Hulle was van die nageslag van Levi.
21. Die Libni-familie en die Simi-familie was van die nageslag van Gerson. Hulle was Gerson-families.
22. Die mans en ook die seuns wat ’n maand of ouer was en wie se name in die boek geskryf is, was almal saam 7 500.
23. Die Gerson-families moes hulle tente agter die tempel-tent opslaan, wes van die tempel-tent.
24. Die leier van die Gerson-families was Eljasaf seun van Lael.