Numeri 16:29-41 Bybel vir Almal (ABA)

29. As hierdie mense sterf soos mense gewoonlik sterf, as dieselfde met hulle gebeur wat met al die mense gebeur, dan het die Here my nie gestuur nie.

30. Maar as die Here iets anders laat gebeur, en as die aarde sy mond oopmaak en hy sluk hulle in saam met alles wat aan hulle behoort, en as hulle lewendig afgaan na die doderyk, dan moet julle weet dat hierdie mense gewys het dat die Here nie vir hulle belangrik is nie.”

31. Nadat Moses dit gesê het, het die grond onder daardie mense oopgeskeur.

32. Die aarde het sy mond oopgemaak en dit het hulle huisgesinne ingesluk, elkeen wat saam met Korag was, en alles wat aan hulle behoort het.

33. Hulle en almal wat aan hulle behoort het, het lewendig afgegaan na die doderyk. Die aarde het hulle toegemaak. Hulle het verdwyn uit die volk.

34. Al die Israeliete naby hulle het gevlug toe hulle hoor hoe skree die mense. Die Israeliete was bang dat die aarde hulle ook sal insluk.

35. Daarna het die Here ’n vuur gestuur, en die 250 mans wat die wierook wou offer, het verbrand.

36. Die Here het vir Moses gesê:

37. “Sê vir die priester Eleasar seun van Aäron hy moet die panne optel en die kole weggooi, want

38. die panne van hierdie sondaars wat gesterf het, is nou gewyd. Julle moet die panne plat slaan en die plate teen die altaar vasmaak. Die manne het die panne naby die altaar gebring, daarom is die panne gewyd, en die plate moet vir die Israeliete ’n teken wees.”

39. Die priester Eleasar het toe die brons panne geneem en hy het hulle plat geslaan en die plate teen die altaar vasgemaak.

40. Wanneer die Israeliete die plate sien, dan moes hulle onthou dat net iemand van die nageslag van Aäron by die altaar mag kom om wierook te brand. As iemand anders daar wierook brand, dan sal dieselfde met daardie persoon gebeur wat met Korag en sy vriende gebeur het. Die Here het vir Moses gesê hy moet dit vir die Israeliete sê.

41. Die volgende dag het die hele volksvergadering van die Israeliete vir Moses en Aäron beskuldig. Hulle het gesê: “Julle het die volk van die Here doodgemaak!”

Numeri 16