Numeri 14:27-34 Bybel vir Almal (ABA)

27. “Hierdie slegte volk hou aan om My te beskuldig. Ek het gehoor dat die Israeliete My beskuldig,

28. en julle moet vir hulle sê: So seker soos Ek lewe, Ek het gehoor wat julle gewens het, en dit is wat Ek sal laat gebeur:

29. Julle dooie liggame sal in hierdie woestyn lê, almal wie se name in die boek geskryf is, almal wat ouer as 20 jaar is en wat My beskuldig het.

30. Ek het belowe dat julle in daardie land sal woon, maar julle sal nie daar kom nie, net Kaleb seun van Jefunne en Josua seun van Nun sal daar kom.

31. En julle kinders? Julle het gesê dat die vyande hulle sal vat. Maar Ek sal húlle daar bring, húlle sal die land ken wat vir júlle nie belangrik was nie.

32. Maar julle, julle dooie liggame sal in hierdie woestyn lê,

33. en julle kinders sal 40 jaar lank skape en bokke moet oppas in die woestyn. Julle was ontrou, en daarom sal hulle swaarkry, totdat al julle dooie liggame in die woestyn lê.

34. Julle het manne gestuur om 40 dae lank te kyk hoe die land lyk, en Ek sal julle ’n jaar lank straf vir elke dag. Julle sal 40 jaar lank die straf moet dra vir julle sonde, julle sal weet dat Ek kwaad is vir julle.

Numeri 14