6. Hulle het gesê:“U is die Here, U alleen, U het die hemel gemaak, ook die hoogste hemel, en al die sterre in die lug. U het die aarde gemaak en alles daarop, die see en alles daarin. U het lewe gegee vir almal, die sterre in die lug aanbid U.
7. U is ons God die Here, U het vir Abram gekies en U het hom gebring uit die stad Ur van die Galdeërs, U het vir hom die naam Abraham gegee.
8. U het gesien dat hy vir U glo, en U het ’n verbond gemaak met hom. U het belowe om vir hom en sy nageslag die land te gee, die land van die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Jebusiete, die Girgasiete. U het gedoen wat U belowe het, want U doen altyd wat reg is.
9. “U het gesien dit gaan sleg met ons voorvaders in Egipte. U het geluister toe hulle na U geroep het by die Riet-see en gevra het dat U hulle moet help.
10. U het geweet dat die farao en al sy amptenare en al die mense in sy land slegte dinge gedoen het aan ons voorvaders, en U het tekens en wonderwerke gedoen by hulle. Almal moes weet wie U is en almal moet nóú weet wie U is.
11. U het ’n pad gemaak deur die see sodat ons voorvaders op droë grond daar kon deurloop, maar U het die mense wat vir hulle gevolg en gejaag het, in die water gegooi. Hulle het soos ’n klip in diep water gesink.