Nehemia 4:14-23 Bybel vir Almal (ABA)

14. Ek het vir die belangrike mense, die leiers en die ander mense, gesê: “Julle moenie bang wees vir die vyande nie, julle moet onthou dat die Here by ons is. Hy is groot, en almal moet bang wees vir Hom. Julle moet veg vir julle broers, vir julle seuns, vir julle dogters, vir julle vroue en julle huise.”

15. Ons vyande het gehoor dat ons weet van hulle planne en dat ons weet dat God hulle planne laat misluk het. Ons het toe almal teruggegaan na die muur, elkeen het sy werk daar gaan doen.

16. Van daardie dag af het die helfte van my manne gewerk en die ander helfte het gereedgestaan met spiese, skilde, pyl en boë, en harnasse. Die offisiere het gestaan agter al die mense van Juda

17. wat die muur gebou het. En die mense wat die klippe moes dra, het klippe gedra met die een hand, en in hulle ander hand het hulle ’n wapen gedra.

18. Die manne wat gebou het, het hulle swaarde teen hulle heupe vasgebind, en die man wat die ramshoring moes blaas, was langs my.

19. Ek het vir die belangrike mense, vir die leiers en die ander mense, gesê: “Ons werk ver van mekaar op die muur.

20. Wanneer julle hoor dat die ramshoring blaas, dan moet julle almal bymekaarkom by ons. Ons God sal vir ons veg.”

21. So het ons gewerk terwyl die helfte van ons die spiese gereedgehou het. Ons het gewerk vandat dit lig geword het in die oggend totdat die sterre in die aand uitgekom het.

22. Ek het daardie tyd ook vir die mense gesê: “Julle moet hier in Jerusalem slaap, elke man en die man wat vir hom werk moet hier slaap, sodat julle in die nag kan wagstaan en in die dag kan werk.”

23. Niemand het sy klere uitgetrek nie, nie ek of my broers of die man wat vir my gewerk het of die manne wat waggestaan het nie. Elkeen het sy spies gereedgehou, ook wanneer hy gewas het.

Nehemia 4