Matteus 7:5-23 Bybel vir Almal (ABA)

5. As jy dit doen, dan is jy ’n skynheilige mens! Haal eers die groot stuk hout uit jou eie oog. Dan sal jy goed kan sien om die klein stukkie hout uit jou broer se oog te haal.

6. “’n Mens gooi nie dinge wat aan God behoort, vir die honde nie. Die honde sal omdraai en hulle sal jou kom byt. Jy gooi ook nie juwele voor varke nie. Die varke sal op die juwele trap met hulle pote. So moet julle nie aanhou om God se boodskap, wat kosbaar is, na mense toe te bring wat die boodskap nie wil ontvang nie.”

7. “Julle moet aanhou bid, dan sal God vir julle gee wat julle vra. Julle moet aanhou soek, dan sal God vir julle laat kry wat julle soek. Julle moet aanhou klop, dan sal God die deur vir julle oopmaak.

8. Elke mens wat aanhou bid, sal ontvang. Elke mens wat aanhou soek, sal kry. Elke mens wat aanhou klop, vir hom sal God die deur oopmaak.

9. ’n Pa sal nooit vir sy seun ’n klip gee wanneer die seun vir hom brood vra nie.

10. En hy sal nie vir sy seun ’n slang gee wanneer die seun vir hom ’n vis vra nie.

11. Julle is slegte mense, maar julle weet om goeie dinge vir julle kinders te gee. Julle Vader in die hemel wil vir die mense wat dit vir Hom vra, dinge gee wat nog beter is.

12. Julle moet aan ander mense doen soos julle wil hê ander mense moet aan julle doen. Dit is wat die Wette van Moses en die boeke van die profete vir julle sê.”

13. “Julle moet by die klein hekkie ingaan. Want die hek na die hel is groot, en dit is maklik om op daardie pad te loop. Baie mense gaan deur die groot hek.

14. Maar die hek na die ewige lewe is klein, en dit is nie maklik om op hierdie pad te loop nie. Min mense kry hierdie pad en loop daarop.”

15. “Pasop vir vals profete. Hulle kom na julle toe en hulle lyk soos skape, maar hulle is nie skape nie, hulle is gevaarlike wolwe.

16. Wanneer jy ’n boom se vrugte sien, dan weet jy watter soort boom dit is. So sal julle ook kan sien watter soort mense dit is wanneer julle sien wat hulle doen. ’n Mens pluk nie druiwe van doringbome of vye van onkruid nie.

17. Nee, goeie bome dra goeie vrugte, en slegte bome dra slegte vrugte.

18. ’n Goeie boom dra nie slegte vrugte nie, en ’n slegte boom dra nie goeie vrugte nie.

19. ’n Mens kap elke boom af wat nie goeie vrugte dra nie, en jy gooi die boom in die vuur.

20. So sal julle weet watter soort mense die vals profete is wanneer julle sien wat hulle doen.”

21. “Dit is nie genoeg as iemand vir My sê: ‘Here, Here’ nie. Hy sal nie daarom by God kan kom nie, by God, die Koning wat in die hemel is. God is my Vader, en mense wat by Hom wil kom, moet doen wat Hy wil hê hulle moet doen.

22. Op die dag van die Here sal baie mense vir My sê: ‘Here, Here, ons het u Naam gebruik om God se boodskap te bring, ons het u Naam gebruik om duiwels uit te jaag uit mense, ons het u Naam gebruik om baie wonderwerke te doen.’

23. “Maar dan sal Ek vir hulle sê: ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle het nie gedoen wat my wette sê nie.’ ”

Matteus 7