Markus 9:43-50 Bybel vir Almal (ABA)

43. As dit jou hand is wat jou laat ophou glo, kap dit af. Dit is beter om een hand te hê en die ewige lewe te ontvang, as om twee hande te hê en na die hel te gaan, na die vuur wat nooit ophou brand nie.

45. En as dit jou voet is wat jou laat ophou glo, kap dit af. Dit is beter om kreupel te wees en die ewige lewe te ontvang as om twee voete te hê en na die hel te gaan.

47. As dit jou oog is wat jou laat ophou glo, ruk dit uit. Dit is beter om een oog te hê en die lewe te ontvang wat kom van God, die Koning, as om met twee oë na die hel te gaan.

48. Daar sal die wurms nie doodgaan nie en die vuur sal nie ophou brand nie.

49. As ’n mens swaarkry, dan is dit soos om in vuur te brand, en swaarkry is nodig om elke mens te toets, soos sout nodig is vir kos.

50. Sout is nodig vir kos, maar as die sout nie meer soos sout smaak nie, dan kan dit nie meer sout wees nie. Julle moet wees soos goeie sout in kos, daarom moet julle in vrede met mekaar lewe.”

Markus 9