Markus 10:29-44 Bybel vir Almal (ABA)

29. Jesus het gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand sy huis los, of sy broers of sy susters of sy ma of sy pa of sy kinders of sy grond waarop hy gewoon het, en hy doen dit omdat hy gehoorsaam is aan My en aan die goeie boodskap, dan sal hy baie meer kry.

30. Hy sal nou, in hierdie tyd, 100 maal meer kry as wat hy gehad het. Hy sal meer huise en broers en susters en ma’s en kinders en grond kry. Die ander mense sal baie slegte dinge doen aan hom. Maar daar sal ’n nuwe tyd kom, en dan sal hy die ewige lewe kry.

31. “Baie mense wat nou belangrik is, sal dan onbelangrik wees, en mense wat nou onbelangrik is, sal dan belangrik wees.”

32. Jesus en sy dissipels was op die pad na Jerusalem. Jesus het ver voor hulle geloop. Die dissipels was verbaas toe hulle dit sien, en die mense wat hulle gevolg het, was bang. Jesus het weer met die twaalf dissipels gepraat. Hy het vir hulle begin vertel van die dinge wat met Hom sal gebeur.

33. Jesus het gesê: “Luister, ons gaan na Jerusalem. Iemand sal My, die Seun van die mens, vir die priesterleiers en die skrifgeleerdes gee, en hulle sal besluit dat Ek moet sterf. Dan sal hulle My vir die heidene gee,

34. en die heidene sal My spot en op My spoeg en My met ’n sweep slaan en My doodmaak. Maar ná drie dae sal Ek weer lewe.”

35. Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, het na Jesus toe gekom en gesê: “Meneer, as ons vir U iets vra, dan moet U dit asseblief vir ons doen.”

36. Jesus het vir hulle gevra: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?”

37. Hulle antwoord Hom toe: “U sal koning wees oor almal. Gee dan vir ons die sitplekke langs U, een regs langs U en een links langs U.”

38. Jesus het vir hulle gesê: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle swaarkry soos Ek moet swaarkry? Kan julle uit die beker drink waaruit Ek moet drink? Kan julle gedoop word soos Ek gedoop sal word?”

39. Hulle antwoord Hom: “Ons kan dit doen.”Toe sê Jesus vir hulle: “Ja, julle sal uit dieselfde beker drink waaruit Ek moet drink, en julle sal gedoop word soos Ek gedoop sal word.

40. Maar Ek kan nie besluit wie regs langs My en wie links langs My sal sit nie. God het klaar besluit wie daar moet sit.”

41. Toe die ander tien dissipels hoor wat Johannes en Jakobus gevra het, het hulle kwaad geword.

42. Jesus het die dissipels na Hom toe geroep en Hy het vir hulle gesê: “Julle weet daar is mense wat dink hulle kan oor ander mense regeer en hulle kan die mense verdruk, daar is belangrike mense wat altyd hard wil regeer oor ander mense.

43. Dit moenie so wees by julle nie. As een van julle die belangrikste wil wees, dan moet hy die ander mense dien.

44. En as een van julle bo die ander wil wees, dan moet hy almal se slaaf wees.

Markus 10