Lukas 6:38-46 Bybel vir Almal (ABA)

38. “Dit moet vir julle maklik wees om vir ander mense iets te gee, want dan sal hulle vir julle ook iets gee. Ja, hulle sal vir julle baie meer gee, want wat julle aan ander mense doen, sal hulle aan julle doen.”

39. Jesus het die volgende voorbeelde gebruik om vir hulle nog iets te sê: “’n Blinde mens kan nie ’n ander blinde mens lei nie. Want hulle sal saam in ’n sloot val.

40. “’n Dissipel is nie belangriker as die meneer by wie hy leer nie. Maar as hy alles geleer het, dan sal hy wees soos sy meneer.

41. Hoekom sien jy die klein stukkie hout in jou broer se oog, maar jy sien nie die groot stuk hout in jou eie oog nie?

42. Jy sê vir jou broer: ‘Ek wil daardie stukkie hout uithaal uit jou oog,’ maar jy sien nie die groot stuk hout in jou eie oog nie. As jy dit doen, dan is jy ’n skynheilige mens. Nee, jy moet eers die groot stuk hout uit jou eie oog haal, dan sal jy goed kan sien om die klein stukkie hout uit jou broer se oog te haal.“’n Mens ken ’n boom wanneer jy sien watter vrugte die boom dra.

43. ’n Goeie boom dra nie slegte vrugte nie, en ’n slegte boom dra nie goeie vrugte nie.

44. Hoe weet ’n mens watter soort boom dit is? Jy kyk na die boom se vrugte. ’n Mens pluk nie vye van ’n doringboom nie. Jy kan ook nie druiwe van ’n doringbos pluk nie.

45. Dit is dieselfde by mense: ’n Goeie mens praat en doen goeie dinge omdat hy in sy hart goed is. En ’n slegte mens praat en doen slegte dinge omdat hy in sy hart sleg is. Ja, ’n mens praat oor die baie dinge wat in sy hart is.”

46. “Hoekom sê julle so baie maal Ek is julle Here, maar julle doen nie wat Ek sê nie?

Lukas 6