9. Simon Petrus en die ander mense saam met hom was baie verbaas oor die baie visse wat hulle gevang het.
10. Jakobus en Johannes was ook baie verbaas. Hulle was die seuns van Sebedeus en hulle het saam met Simon gewerk en visgevang. Jesus het vir Simon gesê: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy nie meer visvang nie, jy sal mense bymekaarmaak.”
11. Hulle het met die bote tot by die land geroei. Hulle het alles daar gelos en saam met Jesus gegaan.
12. Jesus het in ’n stad gekom. Daar was ’n melaatse man. Toe die melaatse man vir Jesus sien, het hy voor Jesus op die grond geval met sy gesig teen die grond. Hy het vir Jesus gesoebat en gesê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.”
13. Jesus het sy hand uitgesteek en aan die man geraak en gesê: “Ek wil dit doen, Ek maak jou gesond.”Dadelik was die man nie meer melaats nie.
14. Jesus het vir die man gesê: “Jy moet dit vir niemand vertel nie. Gaan wys vir die priester jy is gesond en doen dan wat Moses in die wette geskryf het. Bring die offers omdat jy rein geword het. Dan sal die priesters weet jy is rein.”
15. Die mense het toe nog meer gepraat oor alles wat Jesus gedoen het. Baie mense het bymekaargekom om na Jesus te luister. Hulle wou ook hê Jesus moet hulle siektes gesond maak.
16. Jesus het altyd graag na stil plekke gegaan om alleen te wees en daar te bid.
17. Eendag was Jesus besig om vir die mense te leer. Daar was ook Fariseërs en skrifgeleerdes wat na Hom geluister het. Hulle het gekom uit al die stede van Galilea en Judea en ook uit Jerusalem. Die Here het vir Jesus krag gegee om mense gesond te maak.
18. ’n Paar manne het ’n man wat verlam was, op ’n slaapmat nader gebring. Hulle het gekyk waar Jesus is, en hulle wou die man in die huis inbring en voor Jesus neersit.
19. Maar hulle kon nie naby Jesus kom nie, want daar was te veel mense. Hulle het toe op die dak geklim en van die dakteëls uitgehaal. Toe laat sak hulle die verlamde man op die slaapmat deur die gat in die dak tot voor Jesus. Almal het dit gesien.
20. Jesus het gesien hulle glo Hy kan die verlamde man gesond maak, en Hy het vir die man gesê: “My vriend, Ek vergewe jou sondes.”