Lukas 22:5-16 Bybel vir Almal (ABA)

5. Hulle was bly en hulle het besluit om vir Judas geld te gee.

6. Judas het gesê dit is goed. Toe het hy ’n plan probeer maak en hy het gewag vir die regte tyd om Jesus te verraai. Hy moes dit doen waar daar nie ook ander mense is nie.

7. Dit was die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood. Daardie dag moes die mense die paaslam slag.

8. Toe stuur Jesus vir Petrus en Johannes en Hy sê vir hulle: “Gaan maak vir ons die Paas-ete gereed sodat ons dit kan eet.”

9. Die twee dissipels het vir Jesus gevra: “Waar wil U hê moet ons die ete gaan gereedmaak?”

10. Jesus het vir hulle gesê: “Wanneer julle in die stad ingaan, dan sal ’n man na julle toe kom wat water in ’n kruik dra. Gaan saam met hom in die huis waar hy ingaan.

11. Dan sê julle vir die eienaar van daardie huis: Ons Meneer vra waar die kamer is waar Hy die Paas-ete saam met sy dissipels kan eet.

12. Die eienaar sal vir julle ’n groot kamer op die dak van sy huis wys. Alles wat ons moet hê vir die ete, is daar. Julle moet alles daar gereedmaak vir die Paas-ete.”

13. Die dissipels het gegaan, en dit was alles soos Jesus vir hulle gesê het. Hulle het alles gereedgemaak vir die Paas-ete.

14. Toe dit die regte tyd was, het Jesus by die tafel gaan sit en die apostels, die dissipels, het saam met Hom gaan sit.

15. Jesus het vir hulle gesê: “Ek wou baie graag hierdie Paas-ete saam met julle eet voordat Ek swaarkry.

16. Ek sê vir julle Ek sal dit nooit weer eet nie totdat almal sal weet dat God Koning is en almal sal weet wat hierdie Paas-ete beteken.”

Lukas 22