Levitikus 23:15-24 Bybel vir Almal (ABA)

15. Daarna moet julle sewe weke tel, julle moet dit tel van die dag ná die Sabbatdag, die dag wanneer julle die gerf bring om ’n beweeg-offer te wees.

16. Daarna moet julle 50 dae tel tot op die dag ná die sewende Sabbatdag, en dan moet julle ’n nuwe koring-offer bring.

17. Julle moet uit julle woonplekke twee brode bring om beweeg-offers te wees. Julle moet elke brood bak van twee tiendes van ’n efa van die beste meel, en daar moet suurdeeg in die brood wees. Dit is ’n offer vir die Here, dit is van die eerste koring-oes.

18. Saam met die brode moet julle sewe gesonde jaaroud ram-lammers bring en ook een jong bul en twee skaap-ramme, dit is ’n brand-offer vir die Here. Julle moet ook die koring-offers en die drank-offers bring wat daarby moet wees. Dit is vuur-offers, dit ruik lekker vir die Here.

19. Julle moet ook ’n bok-ram bring om ’n sonde-offer te wees, en twee jaaroud ram-lammers om ete-offers te wees.

20. Die priester moet hulle heen en weer beweeg saam met die brode van die eerste koring-oes. Saam met die twee lammers is dit ’n beweeg-offer voor die Here. Dit is aan die Here gewy, en die priester moet dit kry.

21. Julle moet op dieselfde dag bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle mag nie die werk doen wat julle altyd doen nie. Julle en julle nageslag moet dit altyd so doen, oral waar julle woon.

22. Wanneer julle die koring en die gars op julle lande afsny, dan moet julle nie alles afsny tot op die kant van die land nie. Julle moet ook nie die are optel wat val nie. Julle moet dit los vir die arm mense en vir die vreemdelinge. Ek is julle God die Here.”

23. Die Here het vir Moses gesê:

24. “Jy moet vir die Israeliete sê: Julle moet op die eerste dag van die sewende maand ’n spesiale Sabbatdag vier. Julle moet bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle moet ramshorings blaas en julle moet skree.

Levitikus 23