Levitikus 20:5-23 Bybel vir Almal (ABA)

5. dan sal Ek self daardie man en sy familie se vyand wees. Ek sal hom afsny van sy volk, en ook almal wat saam met hom ontrou was en wat vir Molek gedien het.

6. “Wanneer ’n persoon wil vra wat hy moet doen, dan vra hy dit miskien vir die geeste van mense wat gesterf het, of vir waarsêers. Daardie persoon is ontrou aan My. Ek sal sy vyand wees en Ek sal hom afsny van sy volk.

7. Julle moet julleself aan My wy, julle moet gewyde mense wees, want Ek is julle God die Here.

8. Julle moet aanhou om te doen wat Ek wil hê. Ek is die Here, Ek wy julle aan My.

9. “Ja, die persoon wat sy ouers vervloek, moet sterf. Hy het sy ouers vervloek, daarom moet hy sterf, hy is skuldig.

10. “En die man wat egbreuk pleeg met ’n ander man se vrou, moet sterf, hy en die vrou moet sterf.

11. En ’n man wat seks het met sy pa se vrou, moet sterf, hy het skande gebring oor sy pa se naam. Die man en die vrou moet altwee sterf, hulle is skuldig.

12. “En ’n man wat seks het met sy skoondogter, moet sterf. Hulle moet altwee sterf, hulle het iets gedoen wat die Here haat, hulle is skuldig.

13. “En die man wat seks het met ’n ander man, moet sterf. Hulle het iets gedoen wat die Here haat, hulle moet altwee sterf, hulle is skuldig.

14. “En dit is ’n slegte ding wanneer ’n man met ’n vrou én met haar ma trou. Julle moet hulle aldrie verbrand, daar mag nie so ’n slegte ding by julle gebeur nie.

15. “En ’n man wat seks het met ’n dier, moet sterf. Hy moet sterf, en julle moet die dier ook doodmaak.

16. En as ’n vrou seks het met ’n dier, dan moet julle die vrou én die dier doodmaak. Hulle moet sterf, hulle is skuldig.

17. “En as ’n man trou met sy suster of met sy halwe suster en hy het seks met haar, dan is dit ’n skande. Julle moet hulle afsny van die volk, en die mense moet sien dat julle dit doen. Hy het skande gebring oor sy suster se naam, hy is skuldig.

18. “As ’n man seks het met ’n vrou wat menstrueer, dan moet julle hulle altwee afsny van hulle volk.

19. “Jy mag nie seks hê met jou pa of jou ma se suster nie. As jy dit doen, dan is jy én die vrou skuldig.

20. “En die man wat seks het met sy oom se vrou, bring skande oor sy oom se naam. Hulle doen sonde, hulle is skuldig, nie een van hulle sal kinders hê nie.

21. “En as ’n man seks het met sy broer se vrou, dan maak dit hulle onrein. Hy het skande gebring oor sy broer se naam, en die man of die vrou sal nooit kinders hê nie.

22. “Julle moet aanhou om alles te doen wat Ek sê en besluit, dan sal Ek julle bring na ’n land, en daardie land sal julle nie wegjaag nie.

23. Julle moenie lewe soos die ander volke nie, Ek het hulle weggejaag om plek te maak vir julle. Hulle het al hierdie verkeerde dinge gedoen, en Ek het hulle gehaat.

Levitikus 20