Levitikus 19:1-8 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Jy moet vir die hele volksvergadering van die Israeliete sê: Julle moet julleself aan My wy, want Ek, julle God die Here, is heilig.

3. “Elke persoon moet sy ouers respekteer en julle moet my Sabbatdae vier. Ek is julle God die Here.

4. Julle moenie afgode begin dien nie en julle moenie vir julle beelde maak van gode nie. Ek is julle God die Here.

5. “Wanneer julle vir die Here ’n ete-offer slag, dan moet julle dit so doen dat die Here julle aanvaar.

6. Julle mag die vleis eet op die dag wanneer julle die dier slag en julle mag dit ook die volgende dag eet. Maar as daar vleis oorbly tot die derde dag, dan moet julle dit verbrand.

7. As iemand op die derde dag van die vleis eet, dan sal die Here dit nie aanvaar nie, die vleis is onrein.

8. Ek sal die persoon straf wat dit gedoen het, hy sal skuldig wees, want hy het iets ontwy wat aan die Here gewy is. Julle moet daardie persoon afsny van sy volk.

Levitikus 19