Johannes 8:26-42 Bybel vir Almal (ABA)

26. Ek kan nog baie ander dinge oor julle sê en Ek kan julle oordeel. Hy wat My na die wêreld gestuur het, doen reg. Ek vertel vir die mense van die wêreld alles wat Ek by Hom gehoor het.”

27. Die Jode het nie verstaan dat Hy met hulle van die Vader in die hemel praat nie.

28. Jesus het vir hulle gesê: “Wanneer julle My, die Seun van die mens, aan die kruis opgehang het, dan sal julle besef dat Ek ook God is. Dan sal julle weet Ek, die Seun, doen nie self dinge nie. Nee, Ek sê net wat die Vader vir My geleer het.

29. Die Vader wat My na die wêreld gestuur het, is by My. Hy het My nie alleen gelos nie, want Ek doen altyd die dinge waarvan Hy hou.”

30. Terwyl Jesus hierdie dinge gesê het, het baie Jode in Hom begin glo.

31. Jesus het vir die Jode wat in Hom glo, gesê: “As julle glo en doen wat Ek sê, dan sal julle regtig my dissipels wees.

32. Dan sal julle weet wat die waarheid is, en die waarheid sal julle vrymaak.”

33. Hulle sê toe vir Jesus: “Ons is die nageslag van Abraham. Ons was nog nooit iemand se slawe nie. Hoekom sê jy ons sal vry word?”

34. Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: As ’n mens sonde doen, dan is hy ’n slaaf van die sonde.

35. ’n Slaaf bly nie altyd by die familie nie, maar ’n seun bly altyd een van die familie.

36. As Ek, die Seun, julle vrymaak, dan sal julle regtig vry wees.

37. Ek weet julle is die nageslag van Abraham. Maar julle wil My doodmaak omdat julle nie wil glo wat Ek sê nie.

38. Ek sê vir julle wat Ek by mý Vader gesien het. Julle doen wat julle by júlle vader gehoor het.”

39. Die Jode het vir Jesus gesê: “Abraham is ons vader.”Jesus sê vir hulle: “As julle kinders van Abraham is, dan sal julle doen wat Abraham gedoen het.

40. Maar nou wil julle My doodmaak, en dit is Ek wat vir julle die waarheid vertel het wat Ek by God gehoor het. Abraham het nie dit gedoen nie.

41. Nee, julle doen dinge wat julle vader doen.”Die Jode het vir Jesus gesê: “Ons is nie buite-egtelike kinders nie. Ons het net een Vader. Dit is God!”

42. Jesus het vir hulle gesê: “God is nie julle Vader nie, want julle is nie lief vir My nie. Ek het van God gekom en Ek is nou hier by julle. Ek het nie self besluit om te kom nie. Nee, God het My na die wêreld gestuur.

Johannes 8