Johannes 5:14-26 Bybel vir Almal (ABA)

14. Later het Jesus die man in die tempel gekry. Jesus het vir hom gesê: “Jy is nou gesond. Jy moenie weer sonde doen nie, want dan sal iets met jou gebeur wat slegter is as die siekte wat jy gehad het.”

15. Toe gaan sê die man vir die Jode dit is Jesus wat hom gesond gemaak het.

16. Die Jode het begin om slegte dinge te doen aan Jesus omdat Hy die man op ’n Sabbatdag gesond gemaak het.

17. Jesus het vir hulle gesê: “My Vader werk nog altyd, ook op die Sabbatdag. Daarom doen Ek dit ook.”

18. Die Jode het van toe af hard probeer om Jesus dood te maak. Hulle wou Hom doodmaak omdat Hy nie gedoen het wat die wette oor die Sabbatdag sê nie, maar ook omdat Jesus gesê het God is sy Vader, en dit het beteken Jesus sê Hy is ook God.

19. Jesus het vir die Jode gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek is die Seun, maar die Seun mag nie self besluit om iets te doen nie, Hy doen net wat Hy gesien het sy Vader doen. Alles wat die Vader doen, doen die Seun ook.

20. Die Vader is lief vir die Seun en die Vader wys vir die Seun alles wat die Vader self doen. Die Vader sal vir die Seun dinge wys wat wonderliker is as om ’n siek man gesond te maak. Wanneer die Seun hierdie wonderlike dinge doen, dan sal julle verbaas wees.

21. “Die Vader laat mense opstaan wat gesterf het, Hy laat hulle weer lewe. Die Seun doen dieselfde, Hy laat ook mense weer lewe, die mense wat Hy wil laat lewe.

22. Die Vader oordeel niemand nie. Nee, Hy sê die Seun kan die mense oordeel.

23. Daarom moet almal die Seun eer, soos hulle die Vader eer. As iemand die Seun nie eer nie, dan eer hy ook nie die Vader nie, die Vader wat die Seun na die wêreld gestuur het.

24. “Ek sê vir julle, en dit is seker: Die mense wat luister na wat Ek, die Seun, sê, en wat glo in God wat My gestuur het, daardie mense het klaar die ewige lewe. Hulle is nie meer geestelik dood nie, hulle lewe.

25. Ek sê vir julle, en dit is seker: Daar sal iets gebeur, ja, dit het al klaar begin gebeur: Die mense wat geestelik dood is, sal nou die stem van die Seun van God hoor. Almal wat dit hoor en glo, sal geestelik weer begin lewe.

26. “Die Vader lewe en Hy laat mense lewe. Hy het hierdie lewe ook vir die Seun gegee sodat die Seun ook mense kan laat lewe.

Johannes 5