26. Jesus sê toe vir haar: “Dit is Ek, Ek wat nou met jou praat.”
27. Jesus se dissipels het teruggekom. Hulle het gesien Jesus praat met ’n vrou en hulle was verbaas. Maar nie een van hulle het vir Hom gevra wat Hy van haar wil hê of hoekom Hy met haar praat nie.
28. Die vrou het haar waterkruik daar gelos en sy het teruggegaan na die stad. Sy het vir die mense gaan sê:
29. “Julle moet kom kyk! Daar is ’n Man wat vir my alles vertel het wat ek gedoen het. Ek wonder of Hy die Christus is.”
30. Die mense het uit die stad na Jesus toe gekom.
31. Voordat die mense daar gekom het, het die dissipels vir Jesus gesê: “Rabbi, U moet iets eet.”
32. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Ek het kos om te eet, maar julle weet nie wat dit is nie.”
33. Toe vra die dissipels vir mekaar: “Het iemand miskien kos vir Hom gebring?”
34. Jesus het vir hulle gesê: “My kos is om te doen wat God wil hê Ek moet doen. God het My na die wêreld gestuur. Ek moet alles klaar doen wat Hy gesê het.
35. Wanneer julle na die koringlande kyk, dan sê julle: ‘Oor vier maande sal die koring ryp wees, dan kan ons die koring afsny.’ Maar Ek sê vir julle: Kyk na die mense wat daar aankom, hulle is soos koring wat klaar ryp is.
36. Die man wat die koring afsny, kry nou al klaar sy beloning, want hy maak ’n oes bymekaar vir die ewige lewe. Dan sal die man wat saai en die man wat die koring afsny, saam bly wees.
37. Dit is waar wat die mense altyd sê: ‘Een man saai die koring en ’n ander man kom sny dit af.’
38. Ek het julle gestuur om koring te gaan afsny, maar julle het dit nie gesaai nie. Ander mense het gesaai, maar julle maak die koring bymekaar.”
39. Baie van die Samaritane in daardie stad het in Jesus geglo omdat die vrou vir hulle gesê het Jesus het vir haar alles vertel wat sy gedoen het.