Johannes 4:15-33 Bybel vir Almal (ABA)

15. Die vrou sê toe vir Jesus: “Meneer, gee vir my van daardie soort water. Dan sal ek nie weer dors word nie en dan sal ek nie weer hier water moet kom haal nie.”

16. Jesus het vir haar gesê: “Gaan roep jou man en kom terug hiernatoe!”

17. Die vrou het vir Hom gesê: “Ek het nie ’n man nie.”Toe sê Jesus: “Jy praat die waarheid, jy het nie ’n man nie.

18. Jy het vyf mans gehad en die man by wie jy nou bly, is nie jou man nie. Jy praat die waarheid.”

19. Die vrou sê toe vir Jesus: “Meneer, ek sien jy is ’n profeet.

20. Ons voorvaders het God aanbid op hierdie berg, maar julle Jode sê Jerusalem is die regte plek waar ons God moet aanbid.”

21. Jesus het vir haar gesê: “Mevrou, glo My, daar sal ’n tyd kom wanneer mense die Vader nie hier op die berg sal aanbid nie, en ook nie in Jerusalem nie.

22. Julle Samaritane aanbid God, maar julle ken Hom nie. Ons Jode ken Hom, want die Redder is ’n Jood.

23. Ek het gesê daar sal ’n tyd kom, en die tyd is nou hier. Nou sal die Heilige Gees die mense help om God reg te aanbid. Die Vader wil graag mense hê wat Hom so aanbid.

24. God is Gees. Daarom moet die mense wat Hom aanbid, vra dat die Gees hulle moet help om God reg te aanbid.”

25. Die vrou sê toe: “Ek weet daar sal ’n Messias kom. Die mense noem Hom ook die Christus. Wanneer Hy hier is, dan sal Hy vir ons alles vertel wat ons moet weet.”

26. Jesus sê toe vir haar: “Dit is Ek, Ek wat nou met jou praat.”

27. Jesus se dissipels het teruggekom. Hulle het gesien Jesus praat met ’n vrou en hulle was verbaas. Maar nie een van hulle het vir Hom gevra wat Hy van haar wil hê of hoekom Hy met haar praat nie.

28. Die vrou het haar waterkruik daar gelos en sy het teruggegaan na die stad. Sy het vir die mense gaan sê:

29. “Julle moet kom kyk! Daar is ’n Man wat vir my alles vertel het wat ek gedoen het. Ek wonder of Hy die Christus is.”

30. Die mense het uit die stad na Jesus toe gekom.

31. Voordat die mense daar gekom het, het die dissipels vir Jesus gesê: “Rabbi, U moet iets eet.”

32. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Ek het kos om te eet, maar julle weet nie wat dit is nie.”

33. Toe vra die dissipels vir mekaar: “Het iemand miskien kos vir Hom gebring?”

Johannes 4