Jeremia 32:8-17 Bybel vir Almal (ABA)

8. “Alles wat die Here vir my gesê het, het toe gebeur. My neef Ganamel het na my toe gekom in die binneplaas van die paleiswagte en hy het vir my gesê: ‘Jy moet asseblief my grond in Anatot koop in die land Benjamin, want jy is my naaste familie en jy mag die grond vir jou koop. Jy moet dit vir jou koop.’“Ek het toe geweet dit was die Here wat met my gepraat het,

9. en ek het die grond van my neef Ganamel in Anatot gekoop. Ek het vir hom 17 sikkels silwer daarvoor betaal.

10. Ek het die koopkontrak geskryf. Ek het toe met my seël ’n merk daarop gesit en ek het die getuies se name daarby geskryf. Daarna het ek die silwer op ’n weegskaal geweeg.

11. Ons het alles wat ons besluit het, op die koopkontrak geskryf en my seël-merk was ook daarop. Ek het vir my en vir Ganamel elkeen dieselfde koopkontrak geskryf en toe het ek die twee koopkontrakte

12. vir Baruk seun van Nerija seun van Magseja gegee. My neef Ganamel en al die Judeërs wat daar in die binneplaas gesit het, kon dit sien.

13. Hulle het gehoor dat ek vir Baruk gesê het:

14. ‘Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Jy moet hierdie twee koopkontrakte neem en jy moet dit altwee in ’n kleipot sit sodat dit lank kan hou,

15. want die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Mense sal weer huise en lande en wingerde koop in hierdie land.’

16. “Nadat ek die koopkontrak vir Baruk seun van Nerija gegee het, het ek tot die Here gebid. Ek het gesê:

17. ‘Ag, Here, my Here, U het die hemel en die aarde gemaak met u eie groot krag. Daar is niks wat U nie kan doen nie.

Jeremia 32