Jeremia 19:4-11 Bybel vir Almal (ABA)

4. Dit sal gebeur omdat hulle weggegaan het van My. Hulle het hierdie plek ontwy en hulle het hier wierook-offers gebring vir ander gode, gode wat hulle en hulle voorvaders en die konings van Juda voorheen nie geken het nie. En hulle het hier baie onskuldige mense doodgemaak.

5. Hulle het ook die offer-plekke van Baäl gebou om hulle seuns te verbrand. Dit was brand-offers vir Baäl. Ek het nie gesê hulle moet dit doen nie, Ek het nooit aan so iets gedink nie.

6. Daarom sê Ek nou: Daar sal ’n tyd kom wanneer die mense nie meer hierdie plek sal noem ‘Tofet’ of ‘Ben-Hinnom-vallei’ nie, hulle sal dit ‘Moord-vallei’ noem.

7. Die mense van Juda en Jerusalem het planne gemaak, Ek sal hulle planne hier breek soos ’n mens ’n kleipot breek. Ek sal hulle vyande bring om hulle met swaarde dood te maak, en Ek sal hulle dooie liggame hier laat lê sodat die voëls en die wilde diere dit kan vreet.

8. Mense sal bang word wanneer hulle hierdie stad sien, en hulle sal fluit. Elkeen wat deur die stad loop, sal bewe en fluit omdat die vyande die stad so verwoes het.

9. Ek sal vyande bring wat die mense van die stad wil doodmaak. Die vyande sal rondom die stad wees, en niemand sal uit die stad kan kom nie. Dan sal die mense van die stad hulle eie kinders en mekaar begin doodmaak en eet.

10. Jeremia, jy moet die kleipot breek. Die mense wat saam met jou gegaan het, moet dit sien,

11. en jy moet vir hulle sê die Here wat oor alles regeer, sê: Jeremia het die kleipot gebreek en niemand kan dit heelmaak nie. So sal Ek hierdie volk en hierdie stad ook breek. Hulle sal hier in Tofet die mense moet begrawe wat sterf, want daar sal nie meer ander plek wees om grafte te maak nie.

Jeremia 19