1. Die Here het gesê: “Jy moet ’n kleipot gaan koop wat ’n pottebakker gemaak het en in ’n oond gebak het. Jy moet ’n paar leiers van die volk en leiers van die priesters saamneem
2. en julle moet na die Ben-Hinnom-vallei gaan wat naby die Potskerf-poort is. Daar moet jy hard praat en sê wat Ek vir jou sal sê.
3. Jy moet sê: ‘Konings van Juda en mense wat in Jerusalem woon, julle moet luister na wat die Here sê. Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Ek sal dit nou sleg laat gaan met die mense in hierdie plek. Elkeen wat hoor wat gebeur, sal dit nie kan glo nie.’