8. So wys die Heilige Gees dat die pad na die regte hoog-gewyde plek in die hemel nie oop is terwyl die eerste kamer nog daar is nie.
9. Hierdie eerste kamer is ’n voorbeeld van die tyd wanneer mense presente en offers bring, maar die presente en offers kan nie die mense wat vir God dien, help om heeltemal te weet wat is reg en wat is verkeerd nie.
10. Daardie offers was net oor reëls wat sê wat ’n mens moet doen en wat jy nie moet doen nie, dinge wat ander mense kan sien. Dit was reëls oor dinge wat mense geëet of gedrink het en oor hoe hulle mense moes was om hulle rein te maak. Maar hierdie reëls bly net daar totdat die tyd kom wanneer God alles reg en nuut sal maak.
11. Maar Christus het gekom om Hoëpriester te wees en Hy laat goeie dinge gebeur. Hy het deur die groter en beter tempel-tent gegaan. Dit is nie mense wat hierdie tempel-tent gebou het nie, dit is God, en hierdie tempel-tent is ook nie in hierdie wêreld nie.
12. Christus het net een maal en vir altyd in die hoog-gewyde kamer ingegaan en Hy sal nooit weer daar moet ingaan nie. Hy het daar ingegaan, maar nie soos die hoëpriester met die bloed van bokke en kalwers nie. Hy het gesterf en Hy het sy eie bloed daar ingeneem, en so het Hy ons vir altyd gered.
13. Die priesters het op onrein mense die bloed gespat van bokke en bulle en die as van ’n vers-kalf wat heeltemal verbrand het en wat hulle in water gegooi het. Wanneer die priesters dit gedoen het, dan het dit die onrein mense gereinig en dan was hulle rein. Dan kon hulle weer in die tempel kom en vir God dien.