1. Die eerste verbond het ook reëls gehad wat sê hoe die mense vir God moet dien, en dit het ook ’n gewyde tent hier op aarde gehad waar die mense vir God kon dien.
2. Die Israeliete het die tempel-tent gebou. In die eerste kamer was die lampstaander en die tafel met die offer-brood. Hulle het die eerste kamer genoem die “gewyde kamer.”
3. Agter die tweede gordyn was die tweede kamer wat hulle die “hoog-gewyde plek” genoem het.
4. In hierdie kamer was die goue wierook-altaar en die verbondskis wat hulle heeltemal oorgetrek het met goud. In die kis was die goue kruik waarin daar manna was, en die kierie van Aäron waaraan daar takkies en blare gegroei het, en die twee plat klippe van die verbond waarop die tien gebooie was.
5. Op die kis was die gerubs wat wys dat God daar is. Die skaduwee van die gerubs se vlerke was oor die deksel van die kis, die plek waar God die mense se sondes versoen het. Daar is nie nou tyd om te praat oor elkeen van al hierdie dinge in die tempel-tent nie.
6. Die Israeliete het al hierdie dinge so gereedgemaak. Die priesters het altyd in die eerste tent ingegaan om daar die werk van priesters te doen.
7. Maar in die tweede tent het net die hoëpriester ingegaan, een maal elke jaar. Hy het altyd bloed saamgeneem wanneer hy daar ingegaan het, die bloed wat hy ge-offer het vir sy eie sondes en vir die sondes wat die volk gedoen het toe hulle nie geweet het dat dit sonde is nie.
8. So wys die Heilige Gees dat die pad na die regte hoog-gewyde plek in die hemel nie oop is terwyl die eerste kamer nog daar is nie.
9. Hierdie eerste kamer is ’n voorbeeld van die tyd wanneer mense presente en offers bring, maar die presente en offers kan nie die mense wat vir God dien, help om heeltemal te weet wat is reg en wat is verkeerd nie.
10. Daardie offers was net oor reëls wat sê wat ’n mens moet doen en wat jy nie moet doen nie, dinge wat ander mense kan sien. Dit was reëls oor dinge wat mense geëet of gedrink het en oor hoe hulle mense moes was om hulle rein te maak. Maar hierdie reëls bly net daar totdat die tyd kom wanneer God alles reg en nuut sal maak.