Handelinge 9:18-32 Bybel vir Almal (ABA)

18. Dadelik het daar iets afgeval van Saulus se oë. Dit het gelyk soos skubbe. Toe kon hy weer sien. Hy het opgestaan, en Ananias het hom gedoop.

19. Saulus het toe geëet en hy het beter gevoel.Saulus het ’n paar dae by die gelowiges in die stad Damaskus gebly,

20. en hy het dadelik in die sinagoges begin preek oor Jesus. Hy het gesê: “Hierdie Jesus is die Seun van God.”

21. Al die mense wat vir Saulus gehoor praat het, was baie verbaas en hulle het gesê: “Is Saulus die man wat in Jerusalem probeer het om die mense dood te maak wat vir Jesus aanbid? Is hý die man wat hiernatoe gekom het om vir die mense wat vir Jesus aanbid, te vang en na die priesterleiers toe te neem?”

22. Maar Saulus het beter en beter gepreek vir die Jode wat in die stad Damaskus woon en hy het só goed verduidelik dat Jesus die Christus is, dat hulle nie vir hom kon antwoord nie.

23. Ná ’n lang tyd het die Jode planne gemaak om vir Saulus dood te maak,

24. maar hy het gehoor van hulle planne. Hulle het elke dag en elke nag die stad se poorte dopgehou om vir Saulus te vang en dood te maak.

25. Maar mense wat ook gelowiges was, soos Saulus, het in die nag vir Saulus geneem en hulle het hom in ’n groot mandjie laat afsak deur ’n venster in die stad se muur.

26. Toe Saulus in Jerusalem kom, het hy aangehou om te probeer vriende maak met die gelowiges. Maar hulle het nie geglo dat hy ’n gelowige is nie, en daarom was hulle almal bang vir Saulus.

27. Maar Barnabas het vir Saulus gehelp. Hy het vir Saulus na die apostels toe geneem en hy het vir hulle vertel dat Saulus op die pad na Damaskus die Here gesien het en dat die Here toe met Saulus gepraat het. Barnabas het ook vir hulle vertel dat Saulus nie bang was om vir die mense in Damaskus van Jesus te vertel nie.

28. En Saulus het oral in Jerusalem saam met hulle gegaan en hy was nie bang om vir die mense te vertel van die Here nie.

29. Hy het ook gepraat met die Jode wat Grieks gepraat het, en hy het met hulle gestry, maar hulle het probeer om hom dood te maak.

30. Toe die gelowiges dit uitvind, het hulle vir Saulus na die hawestad Sesarea geneem en van Sesarea het hulle hom na die stad Tarsus gestuur.

31. Die kerk in die provinsies Judea, Galilea en Samaria het ’n tyd lank in vrede gelewe. God het hulle gehelp om aan te hou glo, hulle het die Here gedien en hulle was gehoorsaam aan Hom. Die Heilige Gees het die kerk sterk gemaak en meer en meer mense het in die Here begin glo.

32. Petrus het van die een plek na die ander plek gegaan. Hy het ook gekom by mense wat in die stad Lidda woon en wat in die Here glo.

Handelinge 9