24. Wanneer hulle vir hulle laat reinig, dan moet jy ook vir jou laat reinig. En jy moet betaal sodat hulle al hulle hare kan laat afskeer. Dan sal almal weet die dinge is nie waar wat mense oor jou sê nie. Hulle sal weet dat jy self ook reg lewe en doen wat die wette sê.
25. Maar ons het ’n brief geskryf vir die heidene wat in Christus glo. Ons het vir hulle geskryf dat ons besluit het dat hulle nie afgod-offervleis moet eet nie, hulle moet ook nie bloed eet of iets eet wat verwurg is nie, en hulle moenie onsedelik lewe nie.”
26. Paulus het toe gesê die mans moet saam met hom gaan. Die volgende dag het hy homself laat reinig saam met hulle. Toe het hy ingegaan in die tempel. Hy het daar vir almal gesê hoe lank hy en die vier mans hulle sal laat reinig. Hy het ook gesê op watter dag dit verby sal wees en wanneer elkeen van hulle ’n offer sal bring.
27. Die sewe dae wat Paulus en die vier mans hulle laat reinig het, was amper verby. Toe het Jode wat van die provinsie Asië gekom het, vir Paulus in die tempel gesien. Hulle het so geskree dat almal in die tempel kwaad geword het vir Paulus en hulle het vir Paulus gevang.