Genesis 9:7-24 Bybel vir Almal (ABA)

7. “Noag, julle moet baie kinders kry en meer word, julle moet die wêreld vol mense maak.”

8. God het ook vir Noag en sy seuns gesê:

9. “Ek maak ’n verbond met julle en met julle nageslag.

10. Ek maak ook ’n verbond met alles wat lewe, alles wat saam met julle uit die ark gekom het, die voëls, die mak diere en die wilde diere.

11. Ek belowe vir julle: Daar sal nooit weer ’n watervloed wees wat die aarde sal verwoes en al die mense en diere sal doodmaak nie.”

12. God het ook gesê: “Ek gee vir julle ’n teken om te wys dat Ek ’n verbond met julle gemaak het. Ek het dit belowe, en dit sal altyd waar wees.

13. Ek maak my reënboog in die wolke. Die reënboog sal ’n teken wees om te wys dat Ek ’n verbond met julle gemaak het.

14. Wanneer Ek wolke oor die aarde stuur, en die reënboog is in die wolke,

15. dan sal Ek onthou dat Ek ’n verbond gemaak het met julle en met al die diere. Ek het belowe dat daar nie weer ’n watervloed sal wees wat al die mense en diere sal doodmaak nie.

16. Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, dan sal Ek daaraan dink dat Ek ’n verbond gemaak het met almal op die aarde, ’n verbond wat vir altyd sal wees.”

17. God het vir Noag gesê: “Die reënboog is die teken wat vir almal op die aarde wys dat Ek ’n verbond gemaak het met hulle.”

18. Noag het drie seuns gehad wat saam met hom in die ark was. Hulle was Sem, Gam en Jafet. Gam was Kanaän se pa.

19. Hierdie drie seuns van Noag is die voorvaders van al die mense op die aarde.

20. Noag was ’n boer en hy het ’n wingerd geplant.

21. Hy het die druiwe gepluk en wyn gemaak. Toe het hy die wyn gedrink en dronk geword. Hy het sy klere uitgetrek en hy het kaal in sy tent gelê.

22. Gam, die voorvader van die Kanaäniete, het gesien Noag was kaal, en hy het na sy pa gekyk. Hy het uit die tent gegaan en hy het dit vir sy broers gaan vertel.

23. Sem en Jafet het klere geneem en hulle het dit oor hulle skouers gehou. Hulle het agteruit geloop sodat hulle nie Noag se kaal liggaam kon sien nie. Hulle het hulle pa toegemaak met die klere.

24. Toe Noag wakker word, het hy uitgevind wat sy jongste seun gedoen het.

Genesis 9