23. Daarom het ons gevas en gebid dat ons God ons moet beskerm, en Hy hét dit gedoen.
24. Ek het twaalf priesterleiers geroep. Dit was Serebja en Gasabja en tien ander leiers.
25. Ek het die silwer en die goud en die ander goed vir hulle geweeg. Dit was die presente wat die koning en sy raadgewers en sy amptenare en al die Israeliete wat daar was, vir die tempel van ons God gegee het.
26. Ek het dit geweeg en vir hulle gegee. Daar was 650 talente silwer, 100 talente silwergoed, 100 talente goud
27. en 20 goue bekers. Die bekers het 1 000 darieke geweeg. Daar was ook twee blink stukke brons, dit was so kosbaar soos goud.
28. Ek het vir die priesterleiers gesê: “Julle is gewy aan die Here, en die goed is gewy, en die silwer en goud is presente vir die Here, die God van julle voorvaders.
29. Julle moet dit oppas en hou totdat julle dit weeg in die kamers by die tempel. Julle moet dit weeg waar die priesterleiers en die Leviete en die familieleiers van die Israeliete dit sien.”
30. Die priesters en die Leviete het toe die silwer en die goud en die goed geneem wat ek vir hulle geweeg en gegee het om na Jerusalem te bring, na die tempel van ons God.
31. Ons het weggegaan van die Ahawa-rivier op die twaalfde dag van die eerste maand. Ons wou na Jerusalem gaan. Ons God was by ons, Hy het ons beskerm teen vyande en diewe op die pad.
32. Ons het in Jerusalem gekom en ons het drie dae lank daar gebly.
33. Op die vierde dag het die priesterleiers die silwer en die goud en die goed geweeg in die tempel van ons God en hulle het dit vir die priester Meremot seun van Urija gegee. Eleasar seun van Pinehas was by hom, en die Leviete Josabad seun van Jesua en Noadja seun van Binnuï was ook daar.
34. Hulle het die goed getel en geweeg en hulle het opgeskryf hoeveel dit is.
35. Die mense wat gevangenes in Babel was en wat teruggekom het, het daardie tyd brand-offers gebring vir die God van Israel. Dit was twaalf bulle vir al die stamme van Israel, 96 skaap-ramme en 77 lammers. Hulle het ook twaalf bok-ramme gebring om ’n sonde-offer te wees. Alles was brand-offers vir die Here.
36. Die koning het alles wat hy besluit het, in briewe geskryf. Hulle het die briewe van die koning vir die hoof-amptenare en die goewerneurs van die provinsie Wes-Eufraat gegee, en hierdie amptenare het gedoen wat hulle moes doen vir die volk en vir die tempel.