Esra 7:8-15 Bybel vir Almal (ABA)

8. Esra het in Jerusalem gekom in die vyfde maand van die sewende jaar nadat Artasasta koning geword het.

9. Ja, Esra het die mense uit die land Babel gelei op die eerste dag van die eerste maand en hy het in Jerusalem gekom op die eerste dag van die vyfde maand. Sy God het hom beskerm,

10. want hy het altyd gevra wat die wette van die Here sê en hy het dit gedoen. Hy het ook vir die Israeliete geleer wat die Here wil hê en wat Hy besluit het.

11. Die priester Esra het die wette van die Here goed geken. Koning Artasasta het vir Esra ’n brief gegee. Die koning het geskryf:

12. Artasasta, koning van konings, aan die priester Esra, wat die wette van die God van die hemel ken:

13. Ek sê dat elke Israeliet in my land, en ook elke priester en Leviet wat na Jerusalem wil gaan, saam met jou mag gaan.

14. Ek, die koning, en my raadgewers stuur jou om in Juda en Jerusalem te gaan kyk hoe dit gaan. Jy moet kyk of die Judeërs daar lewe soos jou God se wette sê, die wette wat jy by jou het.

15. Jy moet die silwer en die goud saamneem wat ek en my raadgewers gegee het vir die God van Israel. Sy tempel is in Jerusalem.

Esra 7