1. “En jy, mens, jy moet ’n skerp swaard neem en jy moet dit soos ’n skeermes gebruik. Jy moet jou hare en jou baard afskeer, en dan moet jy dit weeg en in drie dele deel.
2. Jy moet een derde van die hare in die stad verbrand wanneer die vyande die stad oorwin, die stad wat jy op die baksteen geteken het. Dan moet jy een derde van die hare neem en jy moet dit met die swaard in klein stukkies kap en dit rondom die stad gooi. Daarna moet jy een derde van die hare in die wind gooi sodat dit wegwaai. Ek sal self die mense van die stad volg en jaag met my swaard.
3. Dan moet jy ’n bietjie van die baard en die hare neem en jy moet dit toebind in jou bo-kleed.
4. En jy moet ’n klein bietjie van hierdie baard en hare neem en in die vuur gooi en dit verbrand. ’n Vuur sal daar begin brand en dit sal gaan na die hele volk Israel.”
5. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Hier is Jerusalem. Ek het die stad tussen die volke gesit. Daar is lande rondom die stad.
6. Maar die mense van die stad was opstandig teen My. Hulle het nie gedoen wat Ek wou hê en wat Ek gesê het nie, hulle het meer verkeerd gedoen as die ander volke en die mense van die lande wat rondom die stad is. Hulle het gedink die dinge wat Ek wil hê, is nie belangrik nie, en hulle het nie gelewe soos Ek gesê het nie.”
7. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Julle het slegter dinge gedoen as die volke wat rondom julle is, julle het nie gelewe soos Ek gesê het nie en julle het nie gedoen wat Ek wil hê nie. Julle het slegter gelewe as die volke rondom julle.
8. Daarom sê Ek, die Here: Julle moet dit weet, Ek is nou julle vyand, ja, Ek self. Ek wil regter wees in die stad en Ek wil julle oordeel waar die ander volke dit kan sien.
9. Ek wil iets met julle doen wat Ek nog nie voorheen gedoen het nie en wat Ek nie weer sal doen nie. Ek wil dit doen omdat julle so baie slegte dinge gedoen het.