Esegiël 23:11-31 Bybel vir Almal (ABA)

11. “Haar suster Oholiba het gesien wat met haar gebeur het, maar Oholiba het nog meer verlief geword en sy was nog meer ontrou as haar suster.

12. Sy was verlief op die Assiriërs. Hulle was goewerneurs en hoofde wat naby haar was. Hulle het mooi klere gedra en hulle het op perde gery. Hulle was almal jongmanne, meisies het maklik verlief geword op hulle.

13. Ek het gesien dat Oholiba haarself onrein gemaak het. Sy het dieselfde dinge gedoen soos haar suster.

14. Oholiba het meer ontrou geword. Sy het prente van mans teen ’n muur gesien, prente van Galdeërs. Iemand het die prente geteken met rooi verf.

15. Elke man het ’n belt van lap om sy heupe gehad en ’n lang tulband op sy kop. Dit het gelyk of die mans offisiere is, hulle het gelyk soos Babiloniërs, soos Galdeërs wat kom uit hulle geboorteland.

16. Toe Oholiba die prente sien, het sy dadelik verlief geword op die Babiloniërs. Sy het boodskappers gestuur na hulle toe in Galdeër-land.

17. Hulle het na haar toe gekom en hulle het by haar geslaap en haar onrein laat word. Maar nadat sy haarself onrein gemaak het met hulle, het sy nie meer van hulle gehou nie.

18. Sy was heeltemal ontrou, sy het haar klere vir almal uitgetrek. Daarom het Ek opgehou om van haar te hou, soos Ek ook opgehou het om van haar suster te hou.

19. Sy het onthou hoe ontrou sy was in Egipte toe sy jonk was, en sy het nog meer ontrou geword.

20. Sy wou seks hê met die manne wat soos donkie-hingste en perde-hingste was.

21. Ja, Oholiba, jy het verlang na die slegte dinge wat jy in Egipte gedoen het toe jy jonk was en toe hulle aan jou borste gevoel het.”

22. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Oholiba, jy het dit gedoen, en daarom sal Ek nou die mense bring om jou aan te val. Jy was lief vir daardie mense, maar jy hou nou nie meer van hulle nie. Ek sal hulle van al die kante teen jou laat veg.

23. Daardie mense is die Babiloniërs, al die Galdeërs, en die mense van Pekod, Soa en Koa, en ook al die Assiriërs. Hulle is jongmanne, meisies het maklik verlief geword op hulle. Hulle is almal goewerneurs en hoofde, offisiere en belangrike manne, manne wat almal op perde ry.

24. Hulle sal uit die noorde kom met oorlogkarre en baie soldate wat skilde en helms het. Hulle sal jou van al die kante aanval. Ek bring hulle om jou te straf, en hulle sal dit doen soos hulle self besluit.

25. Ek is kwaad vir jou en Ek sal kwaad bly. Hulle is ook kwaad vir jou en hulle sal doen met jou wat hulle wil. Hulle sal jou neus en jou ore afsny en hulle sal jou seuns en dogters wegvat. Die mense wat oorbly, sal in die oorlog sterf, en die vyande sal alles verbrand wat nog in die stad is.

26. Hulle sal jou kaal uittrek en hulle sal jou juwele vir hulleself vat.

27. So sal Ek jou laat ophou om slegte dinge te doen, jy sal ophou om ontrou te wees soos jy in Egipte was. Jy sal nie weer kan dink aan daardie tyd nie.”

28. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ja, Ek sal jou nou gee vir die mense wat jy haat, jy hou nie meer van daardie mense nie.

29-30. Hulle sal jou ook haat en hulle sal alles vat wat jy het. Dan sal hulle jou los, kaal en sonder klere. Hulle sal vir almal wys hoe ontrou jy was en watter slegte dinge jy gedoen het. Dit sal met jou gebeur omdat jy ontrou was. Jy was ontrou, jy het die ander volke gevolg en jy het jouself onrein laat word omdat jy hulle afgode aanbid het.

31. Jy het gelewe soos jou suster, daarom gee Ek nou vir jou die beker van swaarkry wat jou suster moes drink.”

Esegiël 23