Esegiël 21:21-26 Bybel vir Almal (ABA)

21. Want die koning van Babel staan by die plek waar die twee paaie bymekaarkom en hy soek ’n teken wat vir hom sal wys waarnatoe hy moet gaan. Hy skud sy pyle, dit moet wys waarnatoe hy moet gaan, hy vra vir die beeldjies wat hy moet doen, hy slag ’n dier en hy kyk hoe die dier se lewer lê.

22. En dan kry hy ’n teken, dit wys dat hy na Jerusalem moet gaan en dat hy stormramme moet gereedmaak. Hy moet vir sy soldate skree en sê hulle moet gereed wees om die mense dood te maak, hy moet skree en sê die oorlog moet begin. Hy moet stormramme by die poorte laat neersit, hy moet grond gooi teen die muur, hy moet ’n grondwal bou.

23. Die mense in Jerusalem sal dink die teken is vals, want hulle het belowe om die koning van Babel te dien, maar hy sal vir hulle sê wat hulle verkeerd gedoen het en hoekom hy hulle wil vang.”

24. Die Here, Hy wat Here is, het gesê: “Julle het self gewys dat julle skuldig is en opstandig was. Almal kon sien dat julle sonde doen met alles wat julle doen. Daarom sal die koning van Babel dit vir julle sê en hy sal julle vang.

25. En jy, koning van Israel, jy is skuldig en jy sal sterf, jou laaste dag het gekom, die tyd het gekom om jou die laaste maal te straf.”

26. Die Here, Hy wat Here is, sê vir die koning van Israel: “Jy moet jou tulband en jou kroon afhaal. Niks sal dieselfde bly soos dit nou is nie. Almal wat nie belangrik is nie, sal nou belangrik word, en almal wat belangrik is, sal nou onbelangrik word.

Esegiël 21