Esegiël 20:8-21 Bybel vir Almal (ABA)

8. Maar hulle was opstandig teen My, hulle wou nie luister na My nie. Nie een van hulle het die vuil afgode waarvan hy hou, weggegooi nie, hulle het nie die afgode van Egipte gelos nie. Ek het gedink Ek sal hulle daar in Egipte straf en Ek sal aanhou totdat Ek nie meer kwaad is nie.

9. “Maar Ek het dit nie gedoen nie. Die Israeliete het tussen ander volke gewoon, en daardie volke het gehoor dat Ek belowe het om die Israeliete uit Egipte te bring. Ek is die Here, Ek wou nie hê dat daardie volke moet dink Ek kan nie doen wat Ek belowe het nie.

10. Ek het die Israeliete toe uit Egipte laat kom en Ek het hulle na die woestyn gebring.

11. Ek het vir hulle gesê wat Ek wil hê hulle moet doen. Ek het vir hulle geleer om te weet dat hulle sal aanhou lewe as hulle doen wat Ek besluit.

12. Ek het ook vir hulle my Sabbatdae gegee, dit was ’n teken tussen My en hulle. Hulle moes weet dat Ek, die Here, hulle gekies het om my gewyde volk te wees.

13. Maar die volk Israel was opstandig teen My in die woestyn. Hulle het nie gelewe soos Ek wil hê nie. Hulle het gedink die dinge wat Ek besluit, is nie belangrik nie en hulle het dit nie gedoen sodat hulle kon aanhou lewe nie. Hulle het aangehou om my Sabbatdae te ontwy, en Ek het gedink Ek sal hulle daar in die woestyn straf en hulle almal doodmaak.

14. “Maar Ek het dit nie gedoen nie. Ek is die Here. Die ander volke het gesien dat Ek die Israeliete uit Egipte gebring het en Ek wou nie hê dat daardie volke moet dink Ek kan nie doen wat Ek belowe het nie.

15. Ek het ook daar in die woestyn vir hulle gesê dat Ek hulle nie by die land sal bring wat Ek vir hulle wou gee nie, ’n land waar daar baie melk en heuning is, die mooiste van al die lande.

16. Ek het dit gesê omdat hulle gedink het die dinge wat Ek besluit, is nie belangrik nie en omdat hulle nie gelewe het soos Ek wil hê nie en omdat hulle my Sabbatdae ontwy het. Hulle het die afgode gedien wat hulle graag wou hê.

17. Maar Ek was jammer vir hulle en Ek het hulle nie doodgemaak nie. Ek het hulle nie almal daar in die woestyn laat sterf nie.

18. Ek het daar in die woestyn vir hulle kinders gesê: ‘Julle moenie lewe soos julle voorvaders altyd gelewe het nie, julle moenie doen wat hulle besluit het nie en julle moenie julleself onrein maak met hulle afgode nie.

19. Ek is julle God die Here. Julle moet lewe soos Ek wil hê en julle moet die dinge doen wat Ek besluit.

20. Julle moet my gewyde Sabbatdae hou. Die Sabbatdae moet ’n teken wees tussen My en julle, sodat julle sal weet dat Ek julle God die Here is.’

21. Maar die kinders was opstandig teen My. Hulle het nie gelewe soos Ek vir hulle gesê het nie, hulle het gedink die dinge wat Ek besluit, is nie belangrik nie en hulle het dit nie gedoen sodat hulle kon aanhou lewe nie. Hulle het aangehou om my Sabbatdae te ontwy. Ek het gedink Ek sal aanhou om hulle daar in die woestyn te straf totdat Ek nie meer kwaad is nie.

Esegiël 20