25. Ek self het hulle toe dinge laat doen wat nie goed is nie, Ek het dinge besluit wat hulle nie sou laat aanhou lewe nie.
26. Ek het hulle onrein laat word van die offers wat hulle moes bring. Hulle moes hulle oudste seuns verbrand. Ek wou hulle so bang laat word dat hulle sou weet dat Ek die Here is.
27. Mens, daarom moet jy praat met die volk Israel, jy moet vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Julle voorvaders het My beledig toe hulle heeltemal ontrou geword het aan My.
28. Ek het hulle gebring na die land wat Ek vir hulle belowe het. Maar toe hulle al die hoë heuwels en die groen bome sien, het hulle daar ge-offer en presente neergesit om My te verneder. Hulle het wierook gebrand en drank-offers uitgegooi.
29. Ek het toe vir hulle gevra: ‘Wat beteken die offer-plekke waarnatoe julle gaan?’ Hulle noem daardie plekke nou nog offer-plekke.
30. “Daarom, jy moet vir die volk Israel sê: Die Here, Hy wat Here is, vra: Het julle soos julle voorvaders gelewe en julleself onrein gemaak? Dien julle hulle vuil afgode en is julle ontrou aan My?
31. Julle sit presente neer vir die afgode, julle verbrand julle kinders, julle maak julleself onrein met julle afgode, tot vandag toe. Volk Israel, moet Ek julle antwoord as julle vir My vra wat sal gebeur? Ek sal julle nie antwoord nie, dit is seker, so seker soos Ek lewe.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.