Eksodus 4:12-23 Bybel vir Almal (ABA)

12. Gaan nou, Ek sal jou help om te praat. Ek sal vir jou leer wat om te sê.”

13. Maar Moses het gesê: “Asseblief, Here, stuur iemand anders.”

14. Die Here het toe kwaad geword vir Moses en Hy het gesê: “Die Leviet Aäron is jou broer. Ek weet hy kan goed praat. Hy kom na jou toe, en hy sal bly wees om jou weer te sien.

15. Praat met hom en sê vir hom wat hy moet sê. Ek sal vir jou en vir hom help om te praat en Ek sal vir julle sê wat om te doen.

16. Aäron sal vir die volk sê wat jy vir hulle wil sê. Hy sal praat, en jy moet vir hom sê wat hy moet sê.

17. Jy moet die tekens met hierdie kierie doen. Neem dit saam.”

18. Moses het na sy skoonpa Jetro toe gegaan en hy het vir Jetro gesê: “Ek wil asseblief teruggaan na my mense toe in Egipte, ek wil sien of hulle nog lewe.”Jetro het vir Moses gesê: “Jy mag gaan.”

19. Die Here het vir Moses in Midian gesê: “Gaan terug na Egipte, want die mense wat jou wou doodmaak, is klaar dood.”

20. Moses het sy vrou en sy seuns geneem en hy het hulle op ’n donkie laat ry. Hulle het teruggegaan na Egipte. Moses het die kierie saamgeneem waarmee hy die tekens van God moes doen.

21. Die Here het vir Moses gesê: “Wanneer jy teruggaan na Egipte, dan moet jy voor die farao al die tekens doen wat Ek vir jou geleer het. Maar Ek sal die farao hardkoppig maak, en hy sal julle nie laat gaan nie.

22. Dan moet jy vir die farao sê: ‘Die Here sê: Israel is vir My soos ’n oudste seun,

23. en Ek sê vir jou jy moet my seun laat gaan sodat hy My kan dien. As jy hom nie laat gaan nie, dan sal Ek jou oudste seun doodmaak.’ ”

Eksodus 4