24. “Ek sal die ander volke voor julle wegjaag en Ek sal vir julle baie grond gee waar julle kan woon. Niemand sal probeer om julle grond te vat wanneer julle elke jaar drie maal gaan om julle God die Here te aanbid nie.
25. “Wanneer julle ’n dier slag om vir My te offer, dan moet julle nie die bloed bring by iets wat suurdeeg in het nie. Julle moet die Paasfees-offer op-eet. Moenie dit los tot die volgende oggend nie.
26. “Julle moet die beste van die eerste vrugte wat julle afpluk, bring na die huis van julle God die Here.“Julle mag nie ’n bok-lam in sy ma se melk kook nie.”
27. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet hierdie woorde neerskryf, want Ek het dit vir jou gesê toe Ek ’n verbond gemaak het met jou en met die Israeliete.”
28. Moses was 40 dae en 40 nagte by die Here op die berg. Hy het nie geëet of gedrink nie. Die Here het op die plat klippe die woorde van die verbond geskryf. Dit was die tien gebooie.
29. Moses het afgekom van Sinai-berg. Hy het die twee plat klippe in sy hande gedra. Die tien gebooie was op die klippe. Moses se gesig het geblink omdat God met hom gepraat het, maar Moses het dit nie geweet nie.
30. Aäron en al die Israeliete het gesien dat Moses se gesig blink, en hulle was bang om naby hom te kom.
31. Maar Moses het hulle geroep, en Aäron en al die leiers van die volk het na hom toe gekom. Moses het met hulle gepraat.
32. Daarna het al die ander Israeliete ook nader gekom, en Moses het vir hulle alles gesê wat die Here met hom op Sinai-berg gepraat het.
33. Toe Moses klaar met hulle gepraat het, het hy sy gesig toegemaak met ’n sluier.