Eksodus 30:18-31 Bybel vir Almal (ABA)

18. “Julle moet ’n was-skottel maak om in te was en ’n voetstuk van brons. Sit dit neer tussen die tent waar Ek aan julle verskyn en die altaar. Gooi water daarin

19. sodat Aäron en sy seuns hulle hande en voete kan was.

20. Wanneer hulle kom na die tent waar Ek aan julle verskyn, dan moet hulle eers met hierdie water was. Dan sal hulle nie sterf nie. Hulle moet ook was wanneer hulle na die altaar gaan om te werk of om ’n vuur-offer vir My te brand.

21. Hulle moet hulle hande en voete was. Dan sal hulle nie sterf nie. Hulle moet dit altyd doen, hulle en hulle nageslag.”

22. Die Here het vir Moses gesê:

23. “Neem van die beste speserye: 500 tempel-sikkels mirre, 250 tempel-sikkels kaneel, 250 tempel-sikkels kalmoes,

24. 500 tempel-sikkels kassie en ’n hin olyf-olie.

25. Meng dit en maak gewyde salf-olie daarvan. Jy moet dit maak soos ’n ambagsman salf maak. Ek hou daarvan.

26. Julle moet die tent salf waar Ek aan julle verskyn, en julle moet die kis salf waarin die tien gebooie moet kom.

27. Julle moet ook die tafel salf en alles wat by die tafel moet wees, die lampstaander en alles wat by die lampstaander moet wees. Julle moet die wierook-altaar ook salf.

28. Salf ook die brandoffer-altaar en alles wat by die brandoffer-altaar moet wees, ook die was-skottel en sy voetstuk.

29. So moet julle dit alles wy sodat dit hoog-gewy sal wees. Alles wat aan die gewyde goed raak, sal ook gewy wees.

30. Julle moet vir Aäron en sy seuns salf en hulle wy om priesters te wees vir My.

31. Sê vir die Israeliete hierdie olyf-olie moet gewyde salf-olie wees vir hulle nageslag.

Eksodus 30