28. Julle sal daar moet werk vir gode van hout en klip, gode wat nie kan sien of hoor of eet of ruik nie. Mense het daardie gode gemaak.
29. Julle sal daar soek na julle God die Here, en julle sal Hom kry as julle Hom soek met julle hele hart.
30. Wanneer al hierdie dinge later met julle gebeur en dit gaan sleg met julle, dan sal julle terugkom na julle God die Here en julle sal doen wat Hy sê.
31. Want julle God die Here is ’n God wat goed is vir mense wat swaarkry, Hy sal julle nie los nie, Hy sal julle nie heeltemal laat verdwyn nie. Hy sal nie die verbond vergeet wat Hy met julle voorvaders gemaak het nie.
32. Ja, julle kan vra oor wat lank gelede gebeur het voordat julle gebore was, van die dag toe God mense op die aarde gemaak het. Julle kan oral op die aarde vra of daar so ’n groot ding gebeur het, of mense weet van so iets:
33. Julle het die stem van God gehoor praat uit die vuur. Het ’n ander volk dit ook gehoor en het hulle aangehou lewe? Nee.
34. Of het ’n god tekens, wonderwerke, oorlog en groot krag gebruik en het hy só probeer om vir hom ’n volk te gaan vat by ’n ander volk? Het hy die ander volk laat swaarkry en laat skrik? Dit is wat julle God die Here vir julle in die land Egipte gedoen het, julle het dit self gesien.
35. Hy het julle dit laat sien sodat julle dít sal weet: Hy, die Here, is God, en daar is nie nog ’n God nie.
36. Die Here het uit die hemel gepraat en julle het sy stem gehoor, Hy het vir julle geleer hoe julle moet lewe. Hy het vir julle sy groot vuur op die aarde gewys en julle het gehoor dat Hy uit die vuur praat.
37. Hy was lief vir julle voorvaders, daarom het Hy hulle nageslag gekies en vir julle uit die land Egipte gebring met sy groot krag. Hy was self by julle
38. en Hy sal ander volke wegjaag voor julle, volke wat groter en sterker is as julle, en Hy sal vir julle die land gee om aan julle te behoort, soos vandag.
39. Daarom moet julle dit vandag weet en onthou: Hy, die Here, is God in die hemel daarbo en op die aarde hier onder, daar is nie nog ’n God nie.
40. En julle moet doen wat God se wette sê, die wette wat ek vandag vir julle gee en wat goed sal wees vir julle en vir julle kinders. Dan sal julle lank bly woon in die land wat julle God die Here vir julle gee, vir altyd.”