Deuteronomium 4:2-17 Bybel vir Almal (ABA)

2. Julle moet doen wat die wette van julle God die Here sê, die wette wat ek vir julle gee. Julle moet niks bysit by die dinge wat ek vir julle leer nie, en julle moet niks daarvan wegneem nie.

3. Julle het self gesien wat die Here gedoen het by die stad Baäl-Peor. Julle God die Here het daar almal laat sterf wat die afgod Baäl-Peor gedien het.

4. Maar julle wat aangehou het om julle God die Here te dien, julle lewe almal vandag nog.

5. Luister, ek leer vir julle die wette wat my God die Here vir my gesê het. Dit is die dinge wat julle moet doen in die land waarnatoe julle gaan om dit vir julleself te vat.

6. Julle moet aanhou om te doen wat hierdie wette sê, want dit sal vir al die volke wys dat julle wysheid het en verstandig is. Wanneer hulle hoor van al hierdie wette, dan sal hulle sê: ‘Regtig, hierdie groot volk is ’n wyse en verstandige volk.’

7. “Ons God die Here is naby ons wanneer ons tot Hom bid. Watter groot volk het gode wat so naby hulle is?

8. En watter groot volk het wette wat so regverdig is soos die wette wat ek vandag vir julle gee? Nie een volk nie.

9. Maar julle moet baie versigtig wees dat julle nie die dinge vergeet wat julle self gesien het nie. Julle moet dit nooit vergeet nie, julle moet vir julle kinders en kleinkinders vertel

10. van die dag toe julle by Horeb-berg voor julle God die Here gestaan het. Dit was die dag toe die Here vir my gesê het: ‘Maak die volk bymekaar. Ek wil vir hulle die dinge sê wat hulle moet leer sodat hulle My kan dien so lank soos hulle lewe op die aarde. En hulle moet dit ook vir hulle kinders leer.’

11. “Julle het nader gekom en by die berg gestaan. Die berg het gebrand tot binne-in die hemel, en daar was ’n dik, donker wolk.

12. Toe het die Here uit die vuur gepraat met julle. Julle het woorde gehoor, maar julle het niemand gesien nie, julle het net ’n stem gehoor.

13. Hy het vir julle gesê wat sy verbond is, Hy het gesê wat Hy wil hê julle moet doen. Dit was die tien gebooie, en Hy het dit geskryf op twee plat klippe.

14. En die Here het toe vir my gesê dat ek die wette vir julle moet leer sodat julle sal doen wat die wette sê in die land waarnatoe julle gaan om dit vir julle te vat.

15. Maar julle moet baie versigtig wees, want julle het niemand gesien daardie dag toe die Here met julle gepraat het uit die vuur by Horeb-berg nie.

16. Julle moet versigtig wees dat julle nie ’n slegte ding doen nie, julle moenie vir julle ’n beeld maak wat lyk soos iets anders nie: nie soos ’n man of ’n vrou,

17. of soos ’n dier op die aarde, of soos ’n voël in die lug,

Deuteronomium 4