Deuteronomium 2:9-20 Bybel vir Almal (ABA)

9. “Maar die Here het vir my gesê: ‘Julle moenie die mense van Moab aanval nie, julle moenie oorlog maak teen hulle nie, want Ek sal nie ’n stuk van hulle land vir julle gee nie. Ek het die land Ar vir die nageslag van Lot gegee.’ ”

10. “Die Emiete het voorheen in die land Moab gewoon. Hulle was ’n groot en sterk volk en hulle was so lank soos die Enak-mense.

11. Hulle was ook Refaïete soos die Enak-mense, maar die Moabiete het hulle Emiete genoem.

12. Die Goriete het voorheen in die land Seïr gewoon, maar die nageslag van Esau het hulle oorwin en doodgemaak en het in hulle plek gaan woon. Die Israeliete het dieselfde gedoen met hulle vyande in die land wat die Here vir hulle gegee het.”

13. “Die Here het gesê: ‘Nou moet julle deur die Sered-vallei gaan.’“Ons het deur die Sered-vallei gegaan.

14. Dit was 38 jaar nadat ons weggegaan het van die stad Kades-Barnea. Een hele geslag van manne wat daardie tyd oorlog kon maak, was toe al dood. Dit het gebeur soos die Here vir hulle gesê het.

15. Die Here was nou ook hulle vyand, Hy het hulle almal laat sterf.”

16. “En toe al die manne wat daardie tyd oorlog kon maak, gesterf het,

17. het die Here vir my gesê:

18. ‘Wanneer julle vandag deur die land Moab, die land Ar, gaan,

19. dan sal julle naby die Ammoniete kom. Maar julle moenie vir hulle aanval en oorlog maak teen hulle nie, want Ek sal nie vir julle ’n stuk van die land van die Ammoniete gee nie, Ek het dit vir die nageslag van Lot gegee.’ ”

20. “Almal weet dat die land van die Ammoniete ook die Refaïete se land was, want die Refaïete het voorheen daar gewoon. Die Ammoniete het hulle Samsummiete genoem.

Deuteronomium 2