Daniël 4:23-37 Bybel vir Almal (ABA)

23. Jy het ook gesien daar kom ’n heilige engel uit die hemel en die engel sê: ‘Kap af die boom, kap dit stukkend, maar laat die boom se stam in die grond bly. Sit ’n band van yster en brons om die stam en laat dit tussen die gras staan. Die dou uit die lug moet die stam natmaak, en jy, Nebukadnesar, moet sewe jaar lank wilde plante eet soos die diere.’

24. “Koning, dit is wat die Hoogste God besluit het. Dit sal met jou gebeur, dit is wat die droom beteken:

25. Die mense sal jou wegjaag. Jy sal in die veld gaan woon saam met die diere. Jy sal gras eet soos ’n bees, en die dou uit die lug sal jou sewe jaar lank natmaak. Dan sal jy weet dit is die Hoogste God wat besluit wie koning sal wees.

26. Die engel het ook gesê die boom se stam moet bly staan. Dit beteken jy sal weer koning word wanneer jy weet dit is God wat regeer, God in die hemel.

27. Daarom, Koning, jy moet doen wat ek vir jou sê: Jy moet ophou om sonde te doen. Jy moet reg doen aan die arm mense en jy moet goed wees vir hulle. Dan sal dit goed gaan met jou.”

28. Alles wat Daniël gesê het, het gebeur met koning Nebukadnesar.

29. ’n Jaar later het Nebukadnesar op sy huis se plat dak geloop.

30. Hy het gesê: “Kyk hoe groot is die stad Babel. Dit is ’n stad vir ’n koning. Ek het dit gebou, ek, die groot koning.”

31. Toe die koning dit sê, het hy Iemand gehoor praat uit die hemel. Hy het gesê: “Koning Nebukadnesar, jy sal nie meer koning wees nie.

32. Die mense sal jou wegjaag. Jy sal by die diere gaan bly en jy sal sewe jaar lank gras eet soos ’n bees. Dan sal jy weet dit is die Hoogste God wat besluit wie koning sal wees.”

33. Alles wat Daniël gesê het, het dadelik gebeur met koning Nebukadnesar. Die mense het hom weggejaag. Hy moes gras eet soos ’n bees, en die dou het hom natgemaak. Sy hare het so lank geword soos ’n arend se vere, en sy naels het so lank geword soos ’n voël se naels.

34. Nebukadnesar het geskryf: “Toe die sewe jaar verby was, het ek na die hemel gekyk en gebid. My verstand het teruggekom. Ek het die Hoogste God geprys, Hy wat altyd lewe. Hy sal altyd regeer, Hy sal altyd Koning wees.

35. Die mense op die aarde is nie belangrik nie, hulle is almal soos niks. God doen wat Hy wil met die sterre in die lug en met die mense op die aarde. Niemand kan Hom keer nie, niemand mag vir Hom vra: ‘Wat doen U?’ nie.

36. “Toe het my verstand teruggekom. Ek, Nebukadnesar, het weer soos ’n koning gelyk. My raadgewers en my ander belangrike amptenare het na my toe gekom. Hulle het my weer koning gemaak, en ek is nou ’n belangriker koning as wat ek was.

37. Ek, Nebukadnesar, prys die Koning van die hemel, want alles wat Hy doen, is reg. Hy kan hoogmoedige mense verneder.”

Daniël 4