29. “Jy, Koning, het op jou bed gelê en gedink wat later sal gebeur, en die God wat kan sê wat mense nie weet nie, het vir jou gewys wat sal gebeur.
30. Ek weet nie meer as ander mense nie, maar God het vir my gesê wat die ander mense nie weet nie. Hy wil hê jy moet weet wat die droom beteken. Jy moet die dinge verstaan waaroor jy gedink het.
31. “Koning, jy het iets gesien. Dit was ’n groot beeld wat voor jou gestaan het. Die beeld was groot en dit het geblink. Jy het geskrik toe jy die beeld sien.
32. Die beeld se kop was van skoon goud, sy bors en sy arms was van silwer, sy maag en sy heupe was van brons,
33. sy bene was van yster, en sy voete was van yster en van klei.
34. Jy het gekyk, en toe kom daar ’n klip en dit val op die beeld se voete, op die yster en klei. Die klip het die beeld se voete stukkend geval. Dit was nie ’n mens wat die klip gegooi het nie.
35. Die klip het alles fyngebreek, die yster, die klei, die brons, die silwer en die goud.“Dit het fyn geword soos die kaf van koring op die dorsvloer in die somer. Die wind het die fyn stukkies van die beeld weggewaai, en niemand het dit weer gesien nie. Maar die klip wat die beeld stukkend geval het, het ’n baie groot klip geword. Dit het die hele aarde toegemaak.
36. Koning, dit is wat jy gedroom het, en ons sal nou vir jou sê wat die droom beteken.
37. “Koning, jy is die kop van goud. Jy is ’n koning van ander konings. Die God van die hemel het vir jou koning gemaak en jy het baie sterk en belangrik geword.
38. Hy het gesê jy kan regeer oor die mense, die diere en die voëls op die hele aarde.
39. Ná jou sal daar ander konings kom wat nie so belangrik soos jy sal wees nie. Hulle is soos die silwer. Dan sal daar nog ander konings kom wat oor die hele aarde sal regeer. Hulle is soos die brons.
40. Die konings wat daarna sal kom, sal so hard soos yster wees, want yster maak alles stukkend en fyn.
41. Jy het voete en tone gesien van klei en yster. Dit beteken daardie konings sal regeer oor mense wat nie met mekaar saamwerk nie,
42. hulle sal partymaal sterk wees en partymaal swak.
43. Jy het gesien die yster en klei is bymekaar. Dit beteken die mense van een volk sal met mense van ’n ander volk trou, maar hulle sal nie een volk word nie, want ’n mens kan nie yster en klei meng nie.
44. “In die tyd wanneer daardie konings sal regeer, sal die God van die hemel self kom en Hy sal koning wees. Hy sal altyd regeer, en niemand sal ná Hom regeer nie. Hy sal al die konings oorwin, en hulle sal nie meer regeer nie. Hy self sal altyd regeer.