Daniël 2:27-38 Bybel vir Almal (ABA)

27. Daniël het vir die koning gesê: “Koning, die wyse mense, al die slim mense, kan nie vir jou sê wat jy wil weet nie.

28. Maar in die hemel is daar ’n God wat kan sê wat mense nie weet nie. Hy het vir jou, koning Nebukadnesar, gewys wat later sal gebeur. Ek sal nou vir jou vertel wat jy gedroom en gesien het toe jy geslaap het:

29. “Jy, Koning, het op jou bed gelê en gedink wat later sal gebeur, en die God wat kan sê wat mense nie weet nie, het vir jou gewys wat sal gebeur.

30. Ek weet nie meer as ander mense nie, maar God het vir my gesê wat die ander mense nie weet nie. Hy wil hê jy moet weet wat die droom beteken. Jy moet die dinge verstaan waaroor jy gedink het.

31. “Koning, jy het iets gesien. Dit was ’n groot beeld wat voor jou gestaan het. Die beeld was groot en dit het geblink. Jy het geskrik toe jy die beeld sien.

32. Die beeld se kop was van skoon goud, sy bors en sy arms was van silwer, sy maag en sy heupe was van brons,

33. sy bene was van yster, en sy voete was van yster en van klei.

34. Jy het gekyk, en toe kom daar ’n klip en dit val op die beeld se voete, op die yster en klei. Die klip het die beeld se voete stukkend geval. Dit was nie ’n mens wat die klip gegooi het nie.

35. Die klip het alles fyngebreek, die yster, die klei, die brons, die silwer en die goud.“Dit het fyn geword soos die kaf van koring op die dorsvloer in die somer. Die wind het die fyn stukkies van die beeld weggewaai, en niemand het dit weer gesien nie. Maar die klip wat die beeld stukkend geval het, het ’n baie groot klip geword. Dit het die hele aarde toegemaak.

36. Koning, dit is wat jy gedroom het, en ons sal nou vir jou sê wat die droom beteken.

37. “Koning, jy is die kop van goud. Jy is ’n koning van ander konings. Die God van die hemel het vir jou koning gemaak en jy het baie sterk en belangrik geword.

38. Hy het gesê jy kan regeer oor die mense, die diere en die voëls op die hele aarde.

Daniël 2