2 Samuel 5:7-18 Bybel vir Almal (ABA)

7. maar Dawid het die stad Sion wat sterk mure gehad het, oorwin, dit is nou die Dawidstad.

8. Dawid het daardie dag gesê: “As iemand die Jebusiete wil oorwin, dan sal hy deur die watertonnel moet gaan om by hulle te kom, by die mense wat nie kan sien of kan loop nie. Ek haat hierdie mense.”Dit is hoekom hulle sê mense wat nie kan sien of kan loop nie, mag nie in die tempel kom nie.

9. Dawid het gaan woon in die stad wat sterk mure het en hy het dit die Dawidstad genoem. Hy self het geboue gebou, van die terrasse tot teen sy paleis.

10. Dawid het ’n belangrike koning geword. Die Here, die God wat oor alles regeer, was by hom.

11. Koning Hiram van die stad Tirus het boodskappers na Dawid toe gestuur. Hy het ook sederhout gestuur en ambagsmanne wat met hout en klip kon werk, en hulle het vir Dawid ’n paleis gebou.

12. Dawid het besef dat die Here vir hom koning oor Israel gemaak het. Hy het besef dat die Here lief is vir sy volk Israel en dat Hy daarom vir Dawid ’n belangrike koning laat word het.

13. Nadat Dawid uit Hebron gekom het, het hy met nog vroue en byvroue in Jerusalem getrou, en hulle het vir Dawid nog seuns en dogters gekry.

14. Hier is die name van die kinders van Dawid wat in Jerusalem gebore is: Sammua, Sobab, Natan, Salomo,

15. Jibgar, Elisua, Nefeg, Jafija,

16. Elisama, Eljada en Elifelet.

17. Die Filistyne het gehoor dat die leiers van Israel vir Dawid koning gemaak het, en al die Filistyne het vir Dawid kom soek. Dawid het dit gehoor en hy het na ’n plek in die berge gegaan waar ’n mens nie maklik kan kom nie.

18. Die Filistyne het gekom tot in Spook-laagte.

2 Samuel 5