2 Konings 4:23-41 Bybel vir Almal (ABA)

23. Haar man het gevra: “Hoekom wil jy vandag na hom toe gaan? Dit is nie Nuwemaan-fees of Sabbatdag nie.”Die vrou het gesê haar man moenie bekommerd wees nie.

24. Sy het die donkie laat opsaal en vir die jongman gesê: “Jy moet die donkie vinnig jaag, jy moet net stadiger gaan wanneer ek vir jou sê.”

25. Toe sy by die man van God op Karmel-berg kom, het hy haar sien aankom en vir die jongman Gehasi by hom gesê: “Kyk, hier kom die vrou van Sunem.

26. Hardloop asseblief na haar toe en vra vir haar: ‘Gaan dit goed met jou, gaan dit goed met jou man, gaan dit goed met die kind?’ ”Die vrou het geantwoord: “Dit gaan goed.”

27. Maar toe sy by die man van God op die berg kom, gaan lê sy en sy hou Elisa se voete vas. Gehasi het nader gekom om haar weg te trek, maar die man van God het gesê: “Los haar, sy is baie hartseer, en die Here het dit nie vir my gewys nie, Hy het dit nie vir my gesê nie.”

28. Die vrou sê toe vir Elisa: “Ek het nie vir Meneer ’n seun gevra nie. Ek het gesê jy moenie vir my jok nie.”

29. Elisa het vir Gehasi gesê: “Jy moet jou klere vasmaak en my kierie neem en na haar huis gaan. Wanneer jy langs die pad iemand kry, dan moet jy hom nie groet nie, en wanneer hy jou groet, dan moet jy nie antwoord nie. Gaan sit dan my kierie op die seun se gesig.”

30. Die seun se ma het vir Elisa gesê: “Kom saam. So seker soos die Here lewe en jy lewe, ek sal nie gaan as jy nie saamgaan nie.”Elisa het opgestaan en hy het saam met haar gegaan.

31. Gehasi het voor hulle by die vrou se huis gekom, en hy het die kierie op die seun se gesig gesit. Maar niks het gebeur nie, die seun het nie gelewe nie. Gehasi het teruggegaan, en toe hy by Elisa kom, het hy gesê: “Die seun het nie wakker geword nie.”

32. Toe Elisa by die huis kom, sien hy dat die seun daar dood op die bed lê.

33. Hy het die deur toegemaak en tot die Here gebid.

34. Toe gaan lê hy bo-op die seun en hy sit sy mond op die seun se mond, sy oë op die seun se oë en sy hande op die seun se hande. So het hy op die seun gelê totdat die seun se liggaam warm geword het.

35. Daarna het Elisa afgeklim van die bed en hy het een maal heen en weer geloop in die kamer. Toe het hy weer op die seun gaan lê. Die seun het sewe maal genies en hy het sy oë oopgemaak.

36. Elisa roep toe vir Gehasi en sê: “Roep die vrou van Sunem.”Gehasi het haar geroep, en toe sy by Elisa kom, het hy gesê: “Tel jou seun op.”

37. Sy het gekom en by Elisa se voete gaan lê met haar gesig teen die grond. Toe het sy haar kind opgetel en uitgegaan.

38. Elisa het teruggegaan na die stad Gilgal. Daar was hongersnood in die land. Eendag toe hy besig was om vir die profete te leer, het hy vir die jongman by hom gesê: “Sit die groot pot op die vuur en kook kos vir die profete.”

39. Een van die profete het uitgegaan veld toe om kruie te pluk. Hy kry toe ’n wilde plant wat vrugte gedra het, en hy pluk sy sak vol. Toe kom hy terug en hy sny die vrugte in stukkies en gooi dit in die pot. Maar hy het nie die vrugte geken nie.

40. Hulle het later vir die manne kos geskep om te eet, maar toe hulle die kos proe, het hulle geskree: “Man van God, die kos is giftig!”Hulle kon dit nie eet nie.

41. Maar Elisa het gesê hulle moet vir hom meel bring, en hy het die meel in die pot gegooi en gesê: “Skep nou van die kos vir die manne.”Hulle het geëet, en daar was toe niks verkeerd met die kos nie.

2 Konings 4