2 Konings 15:25-29 Bybel vir Almal (ABA)

25. Peka seun van Remalja was ’n offisier van koning Pekahia. Peka het planne gemaak teen Pekahia en hy het Pekahia aangeval in Samaria in die toring van die paleis. Argob en Arje en 50 manne van Gilead was saam met Peka. Peka het vir Pekahia doodgemaak en hy het koning geword in Pekahia se plek.

26. Al die ander dinge wat Pekahia gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.

27. Peka seun van Remalja het in Samaria koning van Israel geword in die twee-en-vyftigste jaar nadat Ussia koning van Juda geword het. Peka was 20 jaar lank koning.

28. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hy het aangehou om die sondes te doen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het en wat hy die mense van Israel laat doen het.

29. In die tyd toe Peka koning van Israel was, het koning Tiglat-Pileser van Assirië na Israel gekom. Hy het die stede Ijon, Abel-Bet-Maäka, Janoag, Kedes en Hasor oorwin. Hy het die hele land Naftali, die land Galilea en die land Gilead gevat. Hy het die mense gevang en weggevat na Assirië.

2 Konings 15