1 Timoteus 6:12-16 Bybel vir Almal (ABA)

12. Dit is nie maklik om in Christus te glo nie, dit is soos wanneer iemand hardloop in ’n moeilike resies. Jy moet aanhou om hard te probeer in hierdie resies wat jy hardloop. Jy moet hard probeer om die prys te kry, die prys is die ewige lewe. God het jou geroep om die ewige lewe te kry toe jy reguit gesê het dat jy in Christus glo, baie mense het gehoor toe jy dit gesê het.

13. God laat alles lewe, en Christus Jesus het voor Pontius Pilatus reguit gesê wat die waarheid is en wie Hy is. God en Christus Jesus hoor wanneer ek vir jou sê:

14. Jy moet presies doen wat ek vir jou gesê het en jy moet heeltemal reg lewe. Jy moet dit doen totdat ons Here Jesus Christus weer sal kom.

15. Hy sal op die regte tyd kom. God sal dit laat gebeur. Ons moet God prys, dit is net Hy wat regeer. Hy is die Koning van die konings, Hy is die Here van almal wat regeer.

16. Dit is net Hy wat nooit sterf nie, Hy woon in ’n lig wat so blink dat niemand naby Hom kan kom nie. Niemand het vir God gesien nie, nooit nie, en niemand kán Hom sien nie. Ons bid dat die mense altyd vir God sal eer, God wat altyd sterk is. Amen.

1 Timoteus 6